Kleinding van Delmas verloor die stryd teen kanker
Talitha se begrafnisdiens het op 25 Maart om 12:00 vanuit die Gereformeede Kerk op Delmas plaasgevind. Sy is in die Delmas begraafplaas te ruste gelê.
Delmas se Talitha Berg (5), bekend onder haar hartsmense as Talimuis, het op 18 Maart haar stryd teen kanker verloor.
Sy was bekend as ’n dapper vegter en geliefd deur elkeen wat met haar in aanraking gekom het. Talitha se afsterwe het ’n groot seer gelos.
Sy het diep in die harte harte gekruip van Delmas inwoners, ondersteuners en volgelinge van die Talita Berg Support Group Facebookblad en selfs ondersteuners van oorsee.
Talitha se begrafnisdiens het op 25 Maart om 12:00 vanuit die Gereformeede Kerk op Delmas plaasgevind. Sy is in die Delmas begraafplaas te ruste gelê. Na afloop van die diens het haar pa, Albert die bedankings gedoen.
Hy het aan die begrafnisgangers vertel hoe Talitha dikwels uitgeroep het: “Here maak my assseblief beter”.

Sy het ook dikwels vir mamma en pappa gevra om te bid dat die Here haar sou beter maak. Albert het spesiale dank aan die onderskeie dokters en mediese personeel gebring.
“Die afgelope drie en ’n halfjaar was ’n uitdagende tyd vir ons almal gewees en ons wil elkeen wat ons ondersteun het opreg bedank.”
Albert het ook in besonder dank aan Tanja gebring wat elke minuut van elke dag saam met Talitha deurgebring het en haar versorg het.
“Dankie ook vir dit wat jy vir die ander vier kinders beteken”.
Albert het verder die kinders, Anina, Pedri, Zandri en Joach dankie gesê vir hulle geduld, bystand en ondersteuning met hul geliefde sussie se siekte.
Talitha was op 14 Desember 2021 op die ouderdom van twee-jaar-en-vier-maande gediagnoseer met ’n seldsame kanker, bekend as ‘germ cell tumor yolk sac’.

Chemo-behandeling het gevolg vir die 11cm x 4cm gewas wat in haar pelvis geleë was. Daar was ook reeds kankerkolle op haar longe sigbaar.
Tog kon Talitha op 14 Junie 2022 die klok lui – sy was kankervry. Die hardnekkige kanker het egter teruggekeer en Talitha moes weer operasies ondegaan en bestraling kry.
“Weer eens het Talitha die klok op 24 Februarie 2023 gelui, na haar bestraling voltooi was,” het ma Tanja gesê.
Nog chemo, bestraling en operasies het gevolg en die dapper vegtertjie het elke keer opgestaan en voortgegaan.
Gedurende Januarie het dokters die Berg egpaar egter meegedeel dat daar niks meer was wat hulle vir Talitha kon doen nie.
“Talitha sal altyd onthou word vir haar dapperheid en veglus,” het Albert van sy dogter gesê.




