Local newsNewsStreeknuus

Laerskool Rayton verwelkom passievolle nuwe skoolhoof

“’n Skool moet nooit stilstaan nie - ons moet aanpas, groei en voortdurend streef na beter – ons sal aanhou bou aan ’n skool wat nie net voldoen aan verwagtinge nie, maar dit oortref.”

Denise Steenkamp (33) het op 27 Februarie haar stoel as die nuwe hoof van Laerskool Rayton ingeneem. Sy is ook die eerste vrou wat hierdie pos beklee.

Die Raytienuus vertel Steenkamp is nie net ’n onderwyser en nou skoolhoof nie, maar ook iemand met ’n groot passie vir kinders.

By die skool is sy hoof, maar tuis is sy ma, skoonma, sussie en volgens haar seker haar gunsteling, ook ’n ouma.

Steenkamp is 33 jaar met Christo getroud en die paartjie het twee kinders, Tiaan en Lené. Volgens Steenkamp was Tiaan self ’n Raytie-leerder.

“Vandag is hy 31 jaar oud, getroud met Lushano en hulle het ’n eenjarige dogtertjie, Imke.
Steenkamp is trots op Tiaan.

“Hy het vanjaar ’n pastoor by Inite 180 geword. Om ouma te wees is ’n wonderlike ervaring – ek kan nie wag om vir Imke stories te lees nie,” het Steenkamp gesê.

Die Steenkamps se dogter, Lené, is ’n ‘engelkind’.

“Lené het my geleer van geduld en onvoorwaardelike liefde. Lené is gestremd en sal altyd my babalyfie wat sorg en liefde nodig het, bly.”

Steenkamp self is een van vyf dogters.

“Ek is vierde in die ry, die tweede jongste en volgens my pa die stoutste. As kind het ek vandat ek kan onthou; terwyl ander kinders met hul poppe huis-huis gespeel het, het ek skool-skool gespeel.”

Steenkamp is ook nog bevoorreg om albei haar ouers gespaar te hê.

“My pa het vanjaar 92 geword, my ma het ongelukkig verlede jaar ’n beroerte gehad en is tans in ’n versorgingseenheid in Middelburg.

“Vir my is dit ’n besonderse voorreg om die pos as Laerskool Rayton se hoof te beklee,” sê Steenkamp.

Steenkamp het verder gesê sy is diep dankbaar vir die vertroue wat in haar gestel is.

“Ek glo dat ek hier met ’n doel is. In Jesaja 40:31 lees ons: ‘Maar dié wat op die Here vetrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke’; en dit is waar ek my krag vandaan kry en dit is met hierdie geloof dat ek my roeping as hoof met passie en toewyding gaan uitleef.”

Steenkamp stel haar visie vir Laerskool Rayton duidelik: “Ek wil ’n skool bou waar elke leerder die geleentheid kry om hul volle potensiaal te bereik, waar personeel geïnspireer en gemotiveerd is en waar ouers en die gemeenskap met trots betrokke is.”

Steenkamp streef ook na akademiese uitnemendheid en voel dat ’n skool se hart in sy onderrig lê.

“Daarom wil ek akademiese uitnemendheid vooropstel deur hoë standaarde te handhaaf en ons onderwysers met toewyding en inspirasie toerus.”

Sterk leierskap is ook vir Steenkamp van groot belang.


Denise Steenkamp lui die klok as die nuwe skoolhoof van Laerskool Rayton.

“Dit is die kern van ’n suksesvolle skool – ek wil nie net ’n leier wees nie, maar ook ’n bron van motivering vir my personeel en die leerders.”

“Deur sterk en doelgerigte leierskap sal ons Laerskool Rayton na nuwe hoogtes neem.”

Steenkamp streef verder na ’n positiewe skool kultuur.

“’n Skool is meer as net akademie – dit is ’n gemeenskap waar waardes soos respek, dissipline en samehorigheid geleef word.”

“’n Omgewing waar daar nie net kennis opgedoen word nie, maar waar leerders ook ontwikkel tot verantwoordelike en beginselvaste individue.”

“Elke kind moet voel dat hulle behoort.”


LEES OOK: Learner accused of killing matriculant in eMbalenhle gets bail


Steenkamp streef voorts na deurlopende verbetering.

“’n Skool moet nooit stilstaan nie – ons moet aanpas, groei en voortdurend streef na beter – ons sal aanhou bou aan ’n skool wat nie net voldoen aan verwagtinge nie, maar dit oortref.”

“Ek sien uit daarna om saam hierdie visie te verwesenlik – mag ons hande vat, saam groei en saam vlieg – mét arendsvlerke,” het Steenkamp afgesluit.

“Juffrou Denise is die eerste om hulp aan te bied, die eerste om ’n insiatief te ondersteun en die eerste om saam in oorwinnings en uitdagings te deel,” het die Raytienuus vertel.

“Haar werksetiek, integriteit en deernis is ’n inspirasie vir elkeen van ons.”

Dit is duidelik dat hierdie passievolle skoolhoof met ’n groot liefde vir goudgeel tulpe, wie se gunsteling kleur rooi is, wie lief is vir lekker warm skyfies, graag hekel en ’n groot vrees vir slange het, alreeds baie diep in die harte van leerders, onderwysers en ouers ingekruip het.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button