Local newsNews

Bethaller geniet vertaalwerk en blommerangskikkings

VLU Bethal-tak se ondervoorsitter vertel meer oor haar lewe.

Lynette Posthumus is onlangs as die Hoëveld Vrou van die Jaar aangewys. Sy is al byna agt jaar deel van die VLU Bethal-tak waar sy die jongste lid is.

Posthumus het haar hoërskooljare in Pretoria voltooi en na skool tale studeer, met Engels en Duits as hoofvakke, aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit wat vandag as die Universiteit van Johannesburg bekend staan. Sy het ná skool as vertaler by die stadsraad in Pretoria gewerk.

“Ek het al die verskillende departemente se erk vertaal, so dit was vir my baie interessant.”

Sy het Pretoria in 1988 vir Standerton verruil ná sy met Jan getrou het. Sy het hom by ‘n opedag van die Mielieraad ontmoet en het daardie aand vir haar ma van dié oulike boerseun vertel. Dit was vir haar ‘n groot aanpassing om as stadsmeisie na ‘n klein dorpie soos Standerton te trek.

“My skoonpa het soms gevra of dit nie eensaam is op die plaas naby Standerton waar ek en Jan gewoon het net nadat ons getroud is nie. Dan het ek gesê nee wat, hier loop darem so elke nou en dan so paar koeie verby.”

Posthumus was destyds die voorsitter van Jong Dames Dinamiek op Standerton en het in die personeelafdeling van ‘n onderneming op die dorp gewerk.

Haar man se werk wou hom later oorplaas na Bethal. Die paartjie het sak en pak Bethal toe verhuis waar beide vir Nestlé gewerk het. Sy het as ontvangsdame. Vier jaar het sy Nestle vir OTK verruil waar sy ‘n vertalerspos gekry het.

“Ek het glad nie verwag om ‘n pos as vertaler op die platteland te kry nie. Dit was ‘n wonderwerk. Ek kon my liefde vir vertaling en redigering uitleef.”

Laterjare het die vertaalwerk egter minder geraak omdat meeste van die kommunikasie Engels was. Posthumus het eers as sekretaresse en later in die rekeninge-afdeling gewerk.


LEES OOK: R2 000 fine awaits illegal dumpers in Govan Mbeki Municipality


Sy het nege jaar later bedank en besluit om haar tande as vryskut-vertaler te slyp.

Sy het veral vertaalwerk van uitgewers en die Departement van Onderwys en Opleiding gekry, asook Unisa en sy werk vandag steeds as vryskutvertaler. In haar vrye tyd doen sy graag skryfwerk of blommerangskikkings, luister na musiek en stap graag.

Posthumus het haarself verstom en oortref toe sy verlede jaar vir die eerste keer in die gevorderde blomme- afdeling van die VLU-kongres op Middelburg deelgeneem het en die eerste plek behaal het. Sy het ook haar Honneursgraad in vertaling en redigering behaal.

Posthumus staan ook die skoene vol as ondervoorsitter en skakelbeampte van die VLU Bethal-tak, sy het ook al in die voorsitterstoel gesit.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button