Local newsNewsStreeknuus

Delmas-inwoner is tot Landsdiens nasionale voorsitter verkies

“Ons doel is om gebalanseerde jongmense die wêreld in te stuur”.

Heleen Human, ‘n inwoner van Delmas, is op 1 Maart in Graaff-Reinet as die nasionale voorsitter van Landsdiens Suid-Afrika verkies.

Nie alleen het hierdie eer Delmas te beurt geval nie, maar is Human die eerste vrou om hierdie amp te beklee. Op ’n vraag aan Human hoe sy hieroor voel, het sy dit as ‘n groot eer beskryf.

“Maar ek sien myself bloot as iemand wat behoort aan ’n organsisasie waar ek kan bydra om ’n verskil te maak.”

Human het meer vertel van Landsdiens as 111-jaar-oue organisasie en hoe dié enorme organisasie se struktuur inmekaar steek.

“Dit bestaan nog uit 10 provinsies, bloot vir logistieke redes en omdat die Noord-, Oos-, Suid- en Wes-Kaap so groot is, dat die lede nooit werklik bymekaar kan uitkom nie,” het Human gesê.

Elke provinsie het ’n bestuur, bestaande uit ’n provinsiale voorsitter, onder-voorsitter, sekretaresse, tesourier en addisionele lede.

“Die voorsitters van elke provinsie vorm weer deel van die Landsdiens Suid-Afrika bestuur. Mpumalanga het egter twee lede op die nasionale bestuur omdat die provinsie meer as 3 000 lede het.

“Gedurende 2024 het Landsdiens 12 083 geregistreerde lede regoor Suid-Afrika gehad. Mpumalanga het verlede jaar 52% van die nasionale ledetal opgemaak.”

Volgens Human het sy reeds as leerder aan Hoërskool Delmas by Landsdiens betrokke geraak. Sy het egter direk na skool gaan werk en het so tred verloor.

“Ek en my man Cobus, ook ’n oud-Delmasser, is getroud en eers toe my kinders skool toe is, het ek as ouer weer betrokke begin raak.”

“Al drie my kinders, dogter Heleen en seuns, Percy en Cobus, was gedurende hul skoolloopbane by Laerskool Delmas en Hoërskool Delmas by Landsdiens betrokke.”

Volgens Human het sy toe haar dogter in Hoërskool Delmas was, weer op plaaslike bestuur betrokke geraak.

“Selfs toe my jongste, Cobus, met skool klaargemaak het, het ek betrokke gebly. Om met die kinders te werk is verfrissend; dit laai my battery; dit gee my moed om ’n week met sy uitdagings aan te pak.”


LEES OOK: Robbers strip land owner in Sundra of more than just belongings


Volgens Human kan sy deur Landsdiens bydra daartoe dat liefde en verantwoordelikheid by die jeug gekweek word.

“Deur middel van die Landsdiens aktiwiteite en kampe op plaaslike-, provinsiale- en nasionele vlakke leer die jeug speel-speel vaardighede aan. Ons doel is om gebalanseerde jongmense die wêreld in te stuur.”

Human het verder genoem ‘n gebalanseerde en gesonde jongmens sal ook ’n gebalanseerde ouer word en kan dié eienskappe sodoende ook weer aan húl kinders oordra.

“Landsdiens se vier liefdes of waardes is liefde vir God ons Skepper, liefde vir jou medemens, liefde die natuur en liefde vir arbeid.

“Deur by te dra en betrokke te wees tot die kweek van liefde, omgee en opregtheid by ons jeug, ploeg ek terug. Ek glo met my verkiesing as voorsitter om hierdie vier liefdes van Landsdiens in opregtigheid, geloof en passie kan uitdra aan ons lede en mede-bestuurslede, sodat ons as organisasie kan voortbou op ons omvangryke opvoedingsprogram, gemik daarop om ons jeug as gelukkige, maar ook nuttige burgers van ons land te ontwikkel,” het Human afgesluit.

Die Nasionale Landsdiens op hul Facebook-blad geplaas, “Baie geluk aan Heleen Human, die eerste vroulike voorsitter van Landsdiens.

“Dit is ’n wonderlike prestasie en ’n mylpaal wat nie net haar nie, maar ook die hele organisasie en gemeenskap trots moet maak. Mag Heleen sukses behaal in haar nuwe rol en ’n blywende impak maak. Sterkte met die uitdagings wat voorlê.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button