Local newsNews

Hein Dürr van Secunda laat groot leemte

Oud-polisieman sal gemis word.

Oud Luitenant-Kolonel Hein Dürr (67) het op 26 Maart die stryd teen kanker verloor. Hy is in Januarie 2023 met longkanker gediagnoseer en het die stryd moedig geveg tot die einde.

Hy was later in gedeeltelike remissie en in September verlede jaar, het sy onkoloog laat weet hulle moet die bietjie kanker wat nog in sy long oor is, verwyder.

’n Operasie wat drie ure lank moes wees het toe sewe ure geduur, maar Dürr het deurgedruk en begin met ’n lang, moeilike herstelpad.

Hy het baie pyn gehad en moes met ’n loopraam loop. Sy gesin was verheug toe hulle in November verlede jaar gehoor het hy is uiteindelik skoon van die kanker.

Hy het egter op 18 Januarie weer slegte nuus gekry toe sy gesin hom na die Mediclinic Highveld geneem het nadat hy in Desember geval het en net al hoe meer verswak het.


LEES OOK: Cleaning up Bronkies’ taxi rank is a team effort


Die kanker was terug, dié keer op sy sleutelbeen en in sy brein. Hy het weer bestraling gekry, maar was besig om die stryd te verloor.

“Hy was in die eenheid vir verswakte pasiënte by die Hospies op Heidelberg. Sy lewe het geëindig waar dit begin het,” het sy dogter, Maggie Dürr, gesê.

Baie Secunda-inwoners al Dürr onthou as bobaas-speurder. Sy loopbaan in die polisie het in Heidelberg by die spoorweg-polisie begin. Dit is ook daar waar hy sy vrou, Annetjie, ontmoet het.

Hulle het Heidelberg eers vir Standerton verruil en later na Secunda verhuis waar Dürr by die voertuig-tak van die Secunda Polisie begin werk het.

Hy was laterjare die bevelvoerder van die speurtak en het na 36 jaar in die polisie afgetree. Volgens Maggie, het mense gewoonlik een van twee fasette van haar pa raakgesien as hulle hom die eerste keer ontmoet het.


LEES OOK: Hawks clamp down on clandestine drug lab in Standerton


“Hy was vreeslik kwaai of iemand wat jou kan laat lag tot die trane loop. Hoe langer jy my pa geken het hoe meer lae van hom het jy gesien,” het sy vertel.

Sy gesin sal hom onthou as iemand wat opgestaan het vir reg en geregtigheid.

“Hy het ’n passie gehad vir sy werk en vir mense. Sy werk by die speurtak het baie mense se lewens geraak. Ek het altyd gesê ons moes hom deel met ander mense, met die gemeenskap, maar soos wat ’n mens ouer en wyser word, vertsaan jy hoekom.

Ek is so trots op die mens wat hy was, hy het soveel vir ander mense gedoen en beteken.

“So grapjas soos hy was, was hy ook iemand wat mooi kon teken en het gedigte geskryf. Sy motorhuis was sy ‘happy place’.

“Hy het graag dinge vanuit staal ontwerp en gebou en vir die bure boere musiek gespeel terwyl hy in sy motorhuis gewerk het.

Hy was iemand met wie ’n mens vir ure kon sit en strooi praat, maar ook oor die dieper dinge in die lewe, iemand wat jou kon raad gee en wie jy kon vertrou.”

Sy het hom as ’n merkwaardige mens met die grootste hart, wat eie in sy soort was, en ’n legende, beskryf. Dürr laat sy vrou, dogter, seun, Cobus Dürr en kleinseun Heinro (10), na.

“Heinro glo hy het die beste en snaakste oupa gehad.”

Van sy oud-kollegas van die polisie praat met lof van Dürr.

“Hy was ’n streng en regverdige polisieman en iemand met baie liefde vir sy medemens. Hy was ’n groot mens met ’n sterk gees en hy was trots op sy werk en dié van sy lede. Hy was ’n legende wat in elke persoon se lewe ’n verskil gemaak het,” het Adjunk-Offisier Gloudie Sachse gesê.

Dürr se gedenkdiens is op 3 April by die Kruik Kerk gehou waar polisielede ’n erewag vir hom gevorm het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button