Standerton Sables storm oor Witbank 3
Die eindtelling van die vriendskaplike voorseisoen-wedstryd was 50-12.
Die Standerton Sables het Saterdag Witbank se derdes in ’n vriendskaplike voorseisoen-wedstryd met 50-12 vertrap.
Die kragmeting het op die rugbyveld van Hoërskool Hoogenhout op Bethal plaasgevind.
“Moenie dat die Sables hardloop nie,” het die Witbankers mekaar telkens gewaarsku, want die Sables het dié dag vir puik hardloop-rugby gesorg.
Die wedstryd het skaars afgeskop toe die Sables ’n strafdoel toegeken en die bal deur die pale gestuur is. Hul agsteman, Johan Delport, het kort hierna die bal vanuit ’n losgemaal gekry en ’n drie in die hoek gedruk. Dié drie is verdoel.

Hierna is die bal vanuit ’n lynstaan na die agter ry aangestuur en het dié spoedvrate goed saamgewerk todat die heelagter Mpho Magaleni die bal agter die pale gaan plant het. Hierdie drie is ook verdoel.
Die Sables se linkervleuel, Davies Julies, het vir die volgende drie gesorg wat die puntestand op 24-0 te staan gebring het.
Die besoekers se binnesenter het hierna ’n opening na die doellyn gekry, maar die verdoelskop was nie in die kol nie.
Die Sables het hierop geantwoord met ‘n drie van die kragtige Lunga Dakule in die oorkantste hoekie. Die drie is nie verdoel nie.

Teen halftyd was die telling 29-5 in die Sables se guns. Dakule het sy sterk vertoning in die tweede helfte voorgesit met ’n drie agter die pale. Magaleni het in spangees saam met Dakule deur die lug geduik en glyktydig geland. Hy het hierna die drie verdoel puntebord na 36-5 opgestoot.
Kort nadat ’n Witbank-speler ’n geelkaart gekry het omdat hy die Sables se Katleho Majake gevaarlik hooggevat het, het Majake die bal anderkant die halflyn ontvang en langs die veld af genael, twee Witbankers ontglip en die ’n drie onder die pale gaan plant.
Dié drie verdoel is verdoel. Lang en lenige Samukelo Twala was hierna aan die beurt om ook ‘n drie agter die pale te druk. Die drie is verdoel wat die punte op 50-5 in Sables se guns opgestoot het.
Die besoekers het ’n verdoelde drie gedruk voordat die eindfluitjie geblaas het. Johan Delport is as die voorpeler van die wedstryd en Lunga Dakule as die beste agterspeler aangewys.









