Delmas-bejaarde met gebreekte heup kry operasie, maar sterf dae later
X-strale was van sy heup geneem waarna verpleegpersoneel hom meegedeel het dat hy moes opstaan en loop en dat daar niks fout was nie.
“Ek het sy hand in myne gevat en vir hom gebid, hy het my hand gedruk en kort daarna sy laaste asem uitgeblaas.”
Dit is die woorde van Buks Hattingh, opsigter van Herfsland Aftreeord op Delmas waar Henry Nyce (66) ’n inwoner was.
Nyce se dood op 5 April volg ná hy sy heup op die aand van 22 Maart gebreek het en daarna deur verskeie hospitale weggewys is.
Nyce was eers per ambulans na die Bernice Samuel Hopitaal op Delmas vervoer. X-strale was van sy heup geneem waarna verpleegpersoneel hom meegedeel het om op te staan en te loop want daar was niks fout nie. (Streeknuus, 4 April).
Nyce is met groot moeite en in baie pyn deur Doret Maritz bygestaan en terug na sy woonstel geneem.
Hy was hulpeloos en kon nie beweeg nie. X-strale deur ’n privaat praktisyn het bevind dat Nyce se heup wel gebreek was.
LEES OOK: Rising amapiano star from Standerton inspires with his music
Verwysing na Steve Biko het gevolg – hier was Nyce weggewys omdat hy ’n inwoner van Mpumalanga was.
Maritz het hom in nagterlike ure van 25 Maart na die Witbank Hospitaal vervoer,waar sy heup in traksie geplaas was tot op 1 April toe hy geopereer is.
Nyce is op 4 April uit die Witbank Hospitaal ontslaan. Hy is die volgende dag in sy woonstel in die Herfsland Aftreeoord dood.
Volgens Hattingh het Nyce voor sy dood erge asemnood ondervind en suurstof was toegedien. Die verkryging van ’n ambulans was glo weggewys.
“Kort na ons saam gebid het, het ek gesien dat die mond nie meer na asem snak nie, dit het sag geword; ons het sy oë toegmaak en sy hande oor sy bors gevou – Henry was dood.”
Die begrafnisreëlings was teen druktyd nog nie bekend nie.
LEES OOK: WATCH: Community is fuming over rape of Seven-year old Rethabiseng girl



