Weg 10 in Eloff deur swaar voertuie verwoes
“Ons het werklik ’n baie groot krisis - dit is ook lank nie meer veilig gewees om daar te ry nie, want die trokke kom teen hoë spoed aan en jy as gewone voertuig bestuurder moet maar net padgee.”
Onbevestig, maar volgens inwoners in Eloff is daar tans sowat agt swaar voertuig-maatskappye in Weg 10 gevestig.
Hoewel die gebied oorspronklik uit kleinhoewes bestaan het en dus vir landbou gesoneer was, blyk dit nou tuiste vir hoofsaaklik swaar voertuie te wees.
Omdat die gebied vir landbou gesoneer is, is die pad ook nooit vir swaar 34 ton vragmotors beplan of ontwerp nie.
Streeknuus het die hoof van Nesher Privaatskool, Lizette van Onselen, gekontak.
“Dit is ’n absolute nagmerrie – ons ouers, die taxi’s wat kinders by die skool moet op- en aflaai en personeel; niemand kan meer Weg 10 gebruik nie,” het Van Onselen gesê.
Volgens Van Onselen het mense begin om Weg 9 as alternatief te gebruik, maar ook dié is nou ’n modder massa.

“Ons het werklik ’n reuse krisis – dit is ook lank nie meer veilig om daar te ry nie, want die trokke kom teen ’n hoë spoed aan en jy as gewone voertuig bestuurder moet maar net padgee.”
Volgens Van Onselen moes hulle hul grond hersoneer ten tye van die opening van die skool.
“Dit is ’n peperduur proses en ek glo nie al die swaar voertuig maatskappye het hersoneer nie. Daar behoort ’n fonds gestig te word waarin hierdie sakelui geld betaal wat vir die onderhoud van die paaie gebruik kan word.
“Die paaie was nooit vir swaar voertuie gebou nie en nou is dit te laat – alles moet heeltemal oorgedoen word; dit is nie meer herstelbaar nie.”
Emile Rademeyer woon hy al sedert 2000 op Eloff.
“Ons het hier ’n plot gekoop vir die rustigheid, vir ’n stukkie grond om groente en vrugte te plant. Almal se kinders het hier op die paaie fiets en selfs perd gery,” het Rademeyer gesê.
Vogens Rademeyer is Weg 10 nie meer rybaar nie.
LEES OOK: Eskom and Rand Water accounts payment raises eyebrows among GMM councillors
“Met ’n gewone voertuig is die pad nie meer toeganklik nie, met ’n bakkie ongemaklik, en selfs die vragmotors kry nie meer daar gery nie.”
Volgens Rademeyer het hierdie ondernemings nie besigheidsregte nie.
“Hulle betaal dus nie belasting of streeksdienste nie – die munisipaliteit kan met die geld wat hieruit verkry kon word, die paaie onderhou en herstel, maar daar word egter niks aan gedoen nie,” het Rademeyer bygevoeg.
Nog ’n inwoner het op sosiale media laat weet dat die swaarvoertuie so vining ry dat hul huisalarm afgaan.
Beide Rademeyer en Van Onselen het Streeknuus meegedeel dat dit juis die draai van die vragmotors in en uit die persele is wat die pad so verniel.
Volgens verskeie ander inwoners draai die munisipaliteit ’n blinde oog op die toenemende probleem. Vir die inwoners van Eloff, maar ook Sundra, Rietkol en Modder-Oos Boorde word ontoeganklike paaie ’n al hoe groter probleem en volgens die meeste inwoners, een wat hulle eiendomme se waarde verminder, hul voertuie verniel en hul veiligheid benadeel.






