CrimeLocal newsNewsStreeknuus

AfriForum nasionale massapatrollie bring gemeenskap bymekaar op Delmas

Na afloop van die gesinsaktiwiteite het proto- en reaksielede tot in die vroeëoggendure van Saterdag die massapatrollie op die N12, R42 en R50 voortgesit.

Delmas Valke Buurtwag was op 11 April deel van AfriForum buurtwagte se eerste landwye massapatrollie vir 2025. Die Valke buurtwag, bestaande uit protspan-, reaksie-, eerstehulp- asook gewone lede en gesinne het aan dié massapatrollie deelgeneem.

Verder was die Delmas SAPD, lede van die speurtak, AAA sekuriteit, Maksimum sekuriteit, Sisonke anti-crime eenheid, die Botleng Anti-hijacking eenheid sowel as East Rand Tracking deel van hierdie massapatrollie.

Nadat die aand se verrigtinge deur Gerhard van Heerden met gebed geopen was en Carel Botha, die buurtwag voorsitter, almal verwelkom en bedank het, het die groep van sowat 31 voertuie en ’n totaal van 65 deelnemers die strate van Delmas se woonbuurte deurkruis en aan alle inwoners ’n gevoel van veiligheid besorg.

Ook vir die kinders was daar ’n spesiale skattejag gereël en emmers vol soetigheid was orals in die woonbuurte versteek. Saam hul ouers in die motors was flitse ingespan en kon elkeen wat ’n emmer raakgesien het, heerlik smul aan die soetgoed.


Raygun (voor) saam met sy nuwe gesin, Miané, Roxanne en Jason Byleveldt.

Die groot bederf vir die kinders was die ’soektog’ na ’n reuse gorilla sagte speelding, Raygun. Teen 20:30 was die soektog na die gorilla van stapel gestuur; leidrade was deurgans verskaf en ten einde laaste was Raygun op die klimraam op die speelterrein by Laerskool Delmas gevind.

Raygun was deur die buurtwag bestuur genaam na aanleiding van die dood van die Pretoria bobbejaan, Raygun, op 7 Februarie by ’n hoërskool in Botleng, Delmas.

Die gelukkige gesin van drie kinders wat Raygun gevind het, was die tweeling Miané en Jason en kleinsus Roxanne Byleveldt.

“Raygun is nou veilig en deel van die Byleveldt gesin in Delmas-Wes,” het Gino Sansovini, spanleier vir inligting van AfriForum op Delmas, gesê.


Delmas deelnemers aan die AfriForum massapatrollie.

Na afloop van die gesinsaktiwiteite het proto- en reaksielede tot in die vroeë oggendure van Saterdag die massapatrollie op die N12, R42 en R50 voortgesit en onder andere ook hand bygesit in die soektog na ’n gesteelde Datsun bakkie.

“Ons buurtwag is veral trots op Gino Sansovini vir sy betrokkenheid en leiding tydens die massapatrollie,” het die voorsitter, Carel Botha, gesê.

“Baie dankie ook aan Micaela Prinsloo vir haar moeite en hulp.”

Botha het verder ook elkeen wat die moeite gedoen het om deel van die massapatrollie te wees, opreg bedank.
Sansovini het almal betrokke by die organsisasie van die massapatrollie bedank.

“Baie dankie ook aan Perfect Water vir die verversings wat aan ons laataand patrollielede verskaf was,” het Sansovini laat hoor.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button