TLU hou konferensie in Donkerhoek
“Te danke aan ’n verskeidenheid van kundiges, het die dag ’n waardevolle insig in landbouprobleme gebied.”
TLU SA Sentraalstreek het op 10 April sy jaarlikse konferensie by ’n oord in die Donkerhoek omgewing aangebied,
Die geleentheid het produsente en ander belangstellendes uit die landboubedryf bymekaar gebring vir ’n dag van relevante gesprekke oor kwessies wat die boerderygemeenskap direk raak.
Die konferensie was deur dominee Paul van den Berg van die Gereformeerde Kerk op Cullinan geopen. Ds Van den Berg het die kongresgangers met ’n inspirerende gebed en boodskap verwelkom.
Daarna het Henri Combrink, Cullinan inwoner en TLU SA Sentraalstreek voorsitter die dag se program voorgehou en verder ook die dag se gesprekke van stapel gestuur.
Doktor Johan Malherbe van die Landbou Navorsingsraad het ’n gedetailleerde blik op die impak van droogte siklusse en weermodelle gedeel, en het met die deelnemers ’n diepgaande gesprek gevoer oor hoe boere beplanning kan aanpas om beter voor te berei op die uitdagings wat die klimaat inhou.

Paul Avenant van die Departement van Landbou het deelnemers op ’n reis deur die uitdagings van indringer plante en bosverdigting geneem.
Avenant het praktiese oplossings gebied vir die bestuur van indringer plante.
Hy het verder verduidelik hoe ekologiese suksessie ’n integrale deel van landboubestuur moet wees om volhoubare praktyke te verseker.
Hierna was Hanlie Kroese van Santam aan die beurt en het sy in haar aanbieding op die belangrikheid van veldbrand versekering gefokus – in ’n tyd waar risiko’s vir boere toenemend styg.
LEES OOK: Robbery in Botleng leaves one dead
Kroese het nie net die praktiese aspekte van versekering gedeel nie, maar ook die strategieë wat boere kan toepas om hul besighede teen veldbrande te beskerm. Ons het ’n insiggewende konferensie gehad,” het Combrink gesê.
“Die samewerking en deelname van diegene wat daar was, het van die konferensie ’n groot sukses gemaak.”
Na elke aanbieding was konferensiegangers uitgedaag om vrae te vra en dit het tot aktiewe gesprekke en terugvoer bygedra.
“Te danke aan ’n verskeidenheid van kundiges, het die dag ’n waardevolle insig in landbouprobleme gebied,” het Combrink bygevoeg.
Die dag was afgesluit met gelukkige trekkings en bedankings deur Combrink, gevolg deur ’n ete en gesellige samesyn.




