Bronkhorstbaai-egpaar oorleef gru-ongeluk
“Dit was ’n trompop-botsing - ek weet nie wat het in die bestuurder van die ander voertuig se kop aangegaan nie, maar daar was niks wat jy kon doen om dit te vermy nie.”
Cassie en Betsie Coetzee, ’n bekende egpaar in die Bronkhorstspruit en Delmas-omgewing het op 21 April deel van die afgelope paasnaweek se ongelukstatistiek geword.
Die paartjie is beseer in ’n ernstige trompop-botsing op die pad tussen St Lucia en Mtubatuba aan die KwaZulu-Natalse noordkus.
Met die Paasnaweek in sig het die Coetzees saam met hul vriende Leon en Riekie Schutte van Delmas die lang pad na St Lucia geneem.
Die twee paartjies het op 16 April in afsonderlike voertuie gery, in vrolike luim en opgewonde vir ’n naweek van kuier, visvang en lekker ontspan.
Die ongeluk het met hul terugkeer gebeur. Volgens Riekie het hulle op 21 April omstreeks 07:00 vanaf St Lucia vertrek op pad terug huis toe. Die ongeluk ht 15 minute later gebeur.
“Cassie-hulle het voor ons gery en toe gebeur die haas onmoontlike,” het Riekie Streeknuus meegedeel.
Volgens Riekie het die ongeluk reg voor hulle afgespeel.
“Dit was afgryslik om te aanskou; dit is jou mense, jou vriende. Dit is die genade van die Here dat ons vriende lewendig uit daardie wrak gekom het.”
Streeknuus kon daarin slaag om met Betsie in aanraking te kom waar sy en Cassie in Empangeni in ’n hospitaal opgeneem is.
“Dit was ’n botsing reg van voor af– ek weet nie wat het in die bestuurder van die ander voertuig se kop aangegaan nie, maar daar was niks wat jy kon doen om dit te vermy nie; dit alles het binne ’n breukdeel van ’n sekonde gebeur,” het Betsie vertel.
Volgens Riekie het Cassie die aankomende bakkie opgemerk en hoe dit glo drie ander voertuie ook verby gegaan het.
“Cassie het sy ligte geflikker, gesien dat ’n ongeluk onvermydelik was en links uitgeswaai, maar die bakkiebestuurder het toe ook besluit om links uit te swaai en so het die botsing reg van voor aan beide bestuurskante plaasgevind,” het Riekie verduidelik.

Riekie het vertel dit was chaos op die toneel. Cassie en Betsie was albei erg beseer.
Noodwerkers het vir Cassie en die bestuurder van die bakkie met behulp van reddingskake (kake van die lewe) uit die wrakke bevry.
“Dit het sowat drie ure geneem.”
“Betsie het nie vasgesit nie en kon met die aankoms van paramedici uit die wrak getel word.”
Die Coetzees is na ’n klein hospitaaltjie in die onmiddelike omgewing vervoer waarna hulle na ’n hospitaal in Empangeni oorgeplaas is.
“Ek en Leon kon nie die toneel verlaat nie; ons moes agterbly om na ons vriende om te sien, familie te kontak en te sorg dat die wrak weggesleep word,” het Riekie Streeknuus ook meegedeel.

Teen druktyd was die Schuttes op pad terug na Delmas en kinders van die Coetzees na Empangeni op pad vir bystand.
Riekie kon nie bevestig of die bestuurder van die bakkie die ongeluk oorleef het nie. Die Schuttes en Coetzees is bekende en jarelange inwoners van Delmas.
Riekie besit die naskoolsorgsentrum, TLC Kidz op Delmas. Leon sien reeds vir baie jare om na die trekkers en implemente van boere en Cassie is ’n werknemer van Leon.
Betsie is bekend vir haar liefde en omgee as die hoof huishoudster van Ons Eie Ouetehuis op Delmas. Teen druktyd kon Riekie bevestig die erg beseerde Cassie se enkel is vergruis. Betsie se elmboog is gedislokeer en sy het ’n oop fraktuur aan haar gewrig.
Tydens Streeknuus se gesprek met Betsie het sy slegs kon bevestig dat beide vir verdere x-strale en toetse sou gaan en later sou weet wat verdere operasies of behandeling sou inhou. Daar was egter geen inwendige beserings nie.
“Ons dank die Here dat ons beide leef en dat ons sitplekgordels aangehad het toe die ongeluk gebeur het,” het Betsie gesê.
Sharon Rabie, bestuurder van Ons Eie Ouetehuis op Delmas, en die personeel het vir die Coetzees sterkte en spoedige herstel toegewens.
“Ons hou julle in ons gebede,” her Rabie gesê.









