Delmas Valke Buurtwag maak wéér groot deurbrake in stryd teen misdaad
“Dit bring die aantal inhegtenisnames wat dié buurtwag in die eerste drie maande van die jaar uitgevoer het, op meer as 35 te staan.”

AfriForum meen hul Delmas Valke Buurtwag het in Maart wéér verskeie noemenswaardige suksesse in dié streek se stryd teen misdaad behaal.
In dié maand alleen het die buurtwag toegesien dat 15 vermeende misdadigers vir uiteenlopende misdade aangekeer word.
“Dit bring die aantal inhegtenisnames wat dié buurtwag in die eerste drie maande van die jaar uitgevoer het, op meer as 35 te staan,” het AfriForum in ’n mediaverklaring gesê.
Soos berig in Streeknuus (7 Maart) is die toename in graandiefstal in die area skrikwekkend en laat dit boere met hul hande in hul hare.
Buurtwaglede se paraatheid en ingesteldheid op veiligheid was duidelik bewys toe ’n lid van die Delmas Valke Buurtwag tydens ’n gesprek met ’n kennis ’n verdagte bakkie opgemerk het.
Die buurtwaglid het spoedig gereageer en in samewerking met plaaslike sekuriteitsmaatskappye die voertuig voorgekeer.
Die bestuurder van die voertuig is op die toneel in hegtenis geneem. Die ander verdagtes het egter te voet gevlug.
’n Vrag bestaande uit 21 sakke groen mielies is in die aangekeerde se besit gevind – die vrag was vermoedelik op een van die plase in die Delmas-omgewing gesteel.
Benewens die rits inhegtenisnames, het dié buurtwag in Maart ook toegesien dat twee voertuie, wat na bewering in misdade gebruik was, by Delmas SAPD ingeboek word.
Die buurtwag mediese span het op 24 mediese ongevalle, insluitende motorongelukke en ongevalle na aanleiding van misdade, gereageer.
“Ons buurtwag is ten volle toegewyd aan die beveiliging van Delmas. In samewerking met ons buurdorpe, die polisie en privaat sekuriteitsmaatskappye behaal ons telkemale suksesse, het Carel Botha, voorsitter van AfriForum Delmas-tak, beklemtoon.



