Loffies vervang gesneuwelde bome as hoop vir die toekoms
“Ons plant bome, want ons is vol hoop vir die toekoms.”
Laerskool Eloff het op 16 April, te midde van die papnat aarde en dreigende reën, met hul ‘operasie boomplant’ afgeskop.
Die Loffies het besluit om van die bome op die skoolperseel te vervang en dié wat broodnodige beskerming teen die son rondom die sportveld moet bied.
Dit nadat van die bome met die verloop van jare doodgegaan en nie meer nut gehad het nie.
Daar was vir skenkings gevra en gou-gou het getroue ondersteuners die eerste 10 bome met beenmeel, kompos en alles wat daarmee saamgaan, geskenk.
Die projek het die oggend afgeskop met die grade R- en een klasse wat die eerste bome geplant het.

Loffies Graad Een onderwyser, Mari van Niekerk met die ondersteuning van kollegas Evené Jerome, Janet Schoonraad en Clarissa du Plessis, het die kleingoed eers met die Kareeboom vertroud gemaak en hulle daarna stap-vir-stap deur die proses van boomplant geneem.
Met behulp van die skool se leiers was die bome in hul gate staangemaak en het hulle die nodige voeding gekry. Die kleingoed het toe elkeen kans gekry om hul emmer grond in die gat te gooi.
Daarna was dit die beurt van die ander leerders om ook hul bome staan te maak vir ’n splinternuwe seisoen van jong bome vir Laerskool Eloff.
Tien bome was in totaal op die dag geplant. Mari het elkeen bedank wat tot die plant van bome bygedra het.
“Dit is ’n reuse projek, maar ’n broodnodige een en ons hoop om binnekort nog van die ou bome op die skoolgrond te vervang,” het sy gesê.
“Baie van Loffies se toerusting om bome te kon snoei en ander tuingereedskap was ook nie meer in werkende toestand nie,” het Mari bygevoeg.

“Ons bedank George en Marita van Schalkwyk vir die skenk van nuwe toerustig,” het Mari gesê.
Volgens Mari was George ’n leerder van Laerskool Eloff, so ook sy vier kinders en kleinkind.
“George se volgehoue liefde en passie vir Loffies word opreg waardeer.”
Die hoof, Louise Van Niekerk, het oud-leerders en elkeen wat bygedra het, bedank.
“Ons plant bome, want ons is vol hoop vir die toekoms. Huidige leerders mag dalk nie die voorreg hê om onder die koelte van hierdie nuwe bome te sit nie, maar die geslagte wat kom, gaan dit wel kan doen,” het Louise gesê.






