Tweeling misdaadbestrydersvertel hul unieke verhaal
“Ons is baie na aan mekaar - ons maak tyd om saam te kuier en te gesels.”
Beide is gesoute polisie-offisiere, een is vyf minute ouer as die ander en hulle stemme klink presies dieselfde oor die foon.
Dit is kaptein Carla Hartley van Delmas SAPD en haar tweelingsuster, luitenant kolonel Christél de Bruyn. Carla is getroud met Chris Hartley en hulle het twee kinders, Audrey en Ivan.
Christél woon in Montana, is getroud met Cobus de Bruyn en het twee kinders van haar eie, Candice Vlahos en seun Ronaldo, asook ’n stiefseun, Ruveix.
“Ons is baie geseënd om nog albei ons ouers te hê. Ons pa Chris van Zyl is 85 jaar oud en ma Sarlina 80,” het Christél laat hoor.
Uit die Van Zyls se huwelik is vier dogters gebore. Ousus, Babette le Roux (59), Elizma van Zyl (55) en dan die tweeling, nou 53 jaar oud.

Dié tweeling is op Sishen in die Noord-Kaap gebore en het aan Hoërskool Hans Strijdom in Naboomspruit (nou Mookgophong) gematrikuleer.
Op ’n vraag of hulle, soos baie ander tweelinge, altyd dieselfde aangetrek is, was die antwoord: “Ja, ons het van babadae af tot en met universiteitsdae altyd dieselfde aangetrek.”
Volgens die tweeling was hulle sportief op skool en het hokkie gespeel, aan atletiek deelgeneem, het veral in swem uitgeblink waar hulle ook verskeie rekords laat spat het.
Beide het vir provinsiale spanne geswem en was ook spankapteine van hul onderskeie skoolspanne. Beide Carla en Christél was ook deel van hul skool se drilpeleton.
Ná skool was die twee universiteit toe waar hulle politieke wetenskappe begin studeer het.

“Ons wou nie regtig studeer nie. Op universiteit het ons toets geskryf en was ná die tyd geroskam omdat ons glo bymekaar sou afskryf, dieselfde foute tot op die nommer,” het Carla vertel.
In Januarie 1991 is die twee susters polisie toe waar hulle hul opleiding in die Pretoria Opleiding Kollege ondergaan het.
Wat dié tweeling se storie nog meer spesiaal maak, is dat in 1991 daar vyf tweelinge in die polisiekollege was.
“Vyf tweelinge wil polisievroue word. Hier was Carla eintlik die motivering – sy wou nog altyd polisie toe en soos dit ’n goeie suster betaam, is ek saam. Dieselfde peleton en reg langs mekaar geslaap ten tye van ons opleiding,” het Die Transvaler op 2 Julie 1991 berig.
Volgens dié tweeling is hulle ná hul opleiding as jong konstabels saam na Pretoria-Wes SAPD uitgeplaas waarna hulle paadjies in die polisie geskei het.
LEES OOK: Mixed feelings over proposed new filling station for Delmas
Carla is hierna na Ermelo waar sy vir 21 jaar in die veediefstal eenheid diens verrig het en in 2014 was sy speutak bevelvoerder op Chrissiesmeer.
“Ek is aanvanklik agter ’n ‘boyfriend’ Ermelo toe, maar daarvoor is ek dankbaar, want daar het ek Chris ontmoet.”
Sedert 2017 ken almal vir ‘kaptein Carla’ op Delmas as die media skakelbeampte, omgee-vrou, maar iemand om nie verkeerd op te vryf nie, lief vir haar moterfiets en perde.
Carla is tans skofbevelvoerder, steeds by die Delmas polisie.
Christél se polisieloopbaan het haar stasies soos Olievenhoutbosch, Groot Marico, Potchefstroom, Koster, Mamelodi-Oos en Pretoria-Wes en in verskeie poste laat sien.

Carla het vandag ’n graad in teologie terwyl Christél ’n diploma in polisiëring verwerf het. Volgens die twee is hul steeds baie geheg aan mekaar, maar tog het elkeen nou hul eie ’dinge’.
Carla se troetelnaam vir haar sus is Stoffel en Carla word weer Callamien genoem en so spreek die twee mekaar aan.
Volgens die tweeling is Carla die ektrovert, terwyl Christél die introvert is. Beide hou van onthaal, maar Christél onthaal eerder graag haar familie. Die tweeling deel ook ’n spesiale liefde vir diere.
“Christél hou baie van tuinmaak en haar tuin getuig daarvan,” het Carla bygevoeg.
Carla se gunsteling kos is sushi, vis en schnitzel en Christél eet enige iets, behalwe dadels. Nie ek of Carla eet dadels nie.”
“Carla hou niks van growwe peper of warm kerriekos nie,” het Christél bygevoeg.
Vandag verskil die twee se kleresmaak glo soos dag en nag.
“Christél is meer outyds en ek baie meer modern. Ek is glad nie modebewus nie, maar glo my, Carla het seker omtrent ’n 1 000 paar skoene,” het Christél verder vertel.
“Ja, ek hou van mooi klere en hét sekerlik meer skoene as Marie Antoinette,” het Carla die stelling van haar tweelingsus beaam.
“Carla kleur haar hare; ek doen nie,” het Christél bygevoeg.
Die tweeling het beide vertel dat hulle aanvoel as daar iets met die een of die ander fout is.

“Dit is dan wanneer ons mekaar sommer uit die bloute bel om te hoor of alles reg is.”
Christél het vertel van haar droom oor ’n shofar.
“Die Here het gesê ek moet ’n shofar aanskaf en dit blaas – die volgende dag het Carla my gebel en gesê dat sy gedroom het dat sy vir my ’n shofar moet gee. Carla hét toe vir my ’n shofar gegee en tot vandag toe sukkel ek steeds om dit te blaas.
“Ons is baie na aan mekaar – ons maak tyd om saam te kuier en te gesels. Ons hele familie is baie na aan mekaar. Carla is een van die beste polisievroue wat ek ken,” het Christél oor haar sus gesê.
“En glo my, ‘Stoffel’ laat my nie sommer vergeet dat sy ’n hele vyf minute ouer as ek is nie,” het Carla afgesluit.





