Local newsNewsStreeknuus

Te veel water uit die hemel maak boere benoud

“Skade is daar baie beslis aan oprengs, maar net die tyd sal leer wat die uiteindelike omvang daarvan sal wees.”

Reën, reën, lieflike reën, is die woorde van ’n lied wat jare gelede deur Gé Korsten bekend gemaak was.

Vir die boere van Delmas en omgewing, het te veel reën die afgelope seisoen egter groot probleme en onmeetbare skade aan oeste veroorsaak.

Streeknuus het met ’n groot produsent van soja en mielies gepraat.

“Die hele Delmas gaan gebukkend onder dieselfde probleem, sommige in meerdere of mindere mate, maar almal het skade,” het die boer aan Streeknuus meegedeel.

“In 2022 het ons ook so ’n nat seisoen beleef, maar vanjaar is die uitdaging soveel groter. Drie tot vier dae se onophoudelike en hoë reënval het die lande vir ons boere ontoeganklik gemaak.”

Volgens dié boer was daar reeds aansienlike skade aan soja-oeste – die soja’s het te lank op die lande gebly, die vog was te hoog en baie het dus voortydig oopgespring.

“Strooptyd was tot op hede chaos, want die stropers het bloot net in die modder vasgeval en voordat ons weer in die lande kon kom, het dit weer begin reën.

“Ons boere het ook ongekende sterk winde beleef. Mielies wat met hul voete diep in die water staan met swaar koppe aan die stingels, val om; net vir die koppe om in die water te verrot.”

Volgens die boer speel temperatuur ’n belangrike rol.

“Die vog gehalte in die lug is baie hoog en dit is as gevolg van die lae UV-indeks. Vog verdamp nie en ons gewasse kry dus tans glad nie genoeg hitte nie. En boonop is die rypseisoen ook amper met ons.

”Ons werk nog daaraan om die soja’s vanaf die lande te kry en dan moet ons mielies begin oes – mits dit nie weer kom reën nie. Skade is daar baie beslis aan oprengs, maar net die tyd sal leer wat die uiteindelike omvang daarvan sal wees.”

Volgens die boer van die Delmas-omgewing kan skadebepaling aan gehalte en finansies nie op hierdie stadium bepaal of voorspel word nie.

“Die vooruitsigte is egter ongelukkig negatief.”

Henri Combrink, Cullinan inwoner en streekvoorsitter van TLU Suid-Afrika sentraal streek, het Streeknuus meegedeel daar is nie noemenswaardige skade in die Cullinan-gebied nie.

“Ons totale reënval vir April was 142mm; dit het gelukkig baie verspreid geval en die hoogste wat ek gemeet het, was 65mm oor ’n tydperk van twee dae,” het Combrink gesê.

Volgens Combrink dra hy wel kennis van skade van TLU SA lede in die Delmas-, Devon-, Balfour en ander gebiede.

“Ons gebede gaan uit aan ons boere en wens elkeen sterkte toe vir die res van die seisoen,” het Combrink afgesluit.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button