Cullinan en Rayton inwoners is g-vol vir swak dieslewering
“Hulle is moeg vir ’n stadsadministrasie wat eerder afbreek as om te bou.”
Verskeie woongebiede in Cullinan en Rayton gaan gebukkend onder uiters lae waterdruk. Volgens die raadslid vir Wyk 100, Johannes Bekker, is dit ’n direkte gevolg van reservoirs wat doelbewus deur die administrasie toegedraai word.
“Tegniese amptenare het alles in hul vermoë gedoen om die druk te herstel, maar word ondermyn deur ’n beleid wat waterkrane by reservoirs toedraai eerder as om volhoubare oplossings te bied,” het Bekker gesê.
“En ironies genoeg het Nasiphi Moya, die Tshwane Burgemeester, self tydens haar begrotingsrede gesê haar oplossing vir watergebruik is om eenvoudig die krane toe te draai – ’n beleid waaronder die inwoners ly.”
Volgens ’n inwoner van Rayton, Antoinette Bierman, is die waterdruk baie swak.
“Só swak dat jy nie eers jou wasmasjien kan tap nie, dit sal uitbrand. Daar is mense in ons omgewing met gesondheidsprobleme; hulle kan glad nie in ’n bad kom nie en die waterdruk in die stort is so swak dat mens meestal nie kan stort nie,” het Bierman bygevoeg,” het Bierman vertel.
“Ons inwoners word al vir twee maande deur hierdie swak waterdruk beïnvloed. Verder kan ons nie help om te wonder oor die nuwe uitbreidings in Rayton nie; beïnvloed dit nie dalk die waterdruk nie?

“Ook nie elkeen kan ’n ekstra watertenk bekostig nie. Intussen betaal ons vir dienste wat ons nie kry nie; dit is bitter onregverdig,” het Bierman afgesluit.
Bekker meen dat die inwoners van Wyk 100 hul frustrasies duidelik gemaak het: “Hulle is moeg vir ’n stadsadministrasie wat eerder afbreek as om te bou. Dienslewering in Wyk 100 is aan die verbrokkel. Rioolstelsels loop oor, gras groei onbeheer, en straatligte bly gebreek – en tog word hierdie probleme sistematies geïgnoreer.”
“Politieke teikening word bo basiese dienslewering geplaas,” het Bekker bygevoeg.
“Terwyl gemeenskappe soos Kleinfontein deur lede van die burgemeesterskomitee afgekraak word, stagneer parke-onderhoud en die instandhouding van basiese infrastruktuur. Die Tshwane burgemeester sny weskoppies tydens ’n sensitiewe onderhandeling rondom hospitaalbetalings – ’n teken van ’n bestuur wat prioriteite verkeerd verstaan.
“Inwoners eis nou antwoorde én aksie. Plaaslike regerings behoort nie bloot politieke slagvelde te wees nie, maar funksionele strukture wat daagliks lewens verbeter. Ons vra nie vir gunste nie, ons vra vir die funksionele dienslewering wat elke burger verdien,” het Bekker afgesluit.



