Bekende in Delmas se veiligheidskringe verloor so byna sy sig
“Op pad na Bronkhorstspruit het pa gesê dat hy vreemde ‘swart drywende kolletjies’ sien.”
Roland Scott (62), ’n bekende wanneer dit by veiligheid op Delmas en omgewing kom, het op 5 Mei om 15:00 ’n noodoperasie ondergaan om sy sig te behou.
Die operasie was by die Ekurhuleni SurgiKlin in Kemptonpark gedoen.
Scott is reeds sedert 2001 in diens van Maksimum Sekuriteit op Delmas en is ’n bekende en geliefde inwoner, altyd gereed om te help. Scott word egter ook geken aan die feit dat hy net een oog het.
“My pa het sy regteroog as kind tydens ’n pyl en boog ongeluk verloor. Hy was daarna heeltemal blind in dié oog,” het sy dogter Cindy Steyn, vertel.
Sedert sy kinderjare was Scott dus afhanklik van slegs sy linkeroog. Scott se bril is in April beskadig en moes vervang word.
Terwyl hy op sy nuwe bril gewag het, het hy agtergekom dat iets met sy sig skeel, maar het dit daaraan toegeskryf dat sy oog swaar trek omdat hy nie op daardie stadium ’n bril gehad het nie.
Volgens Steyn het hulle kort daarna tydens die Paasnaweek na Bronkhorstspruit gegaan om daar ’n kerkdiens by die Pinkster Protestante Kerk (PPK) by te woon.
“Op pad daarheen het pa gesê dat hy vreemde swart drywende kolletjies of vlokkies sien.”
Scott het Streeknuus meegedeel dat hy op 26 April gras gesny het en steeds die vlokkies gesien het.
“In die son was dit heel aanvaarbaar, maar toe ek die koelte inbeweeg was alles swart. Ek het dit toegeskryf aan die gevoel van duisternis wat ’n mens ondervind wanneer jy vanuit die direkte son die koelte ingaan,” het Scott vertel.
Scott het weer op die Sondag ’n kerkdiens by die plaaslike PPK kerk bygewoon en steeds was die ‘vlokkies’ saam met hom.
Sy bril was gereed en met die afhaal daarvan het hy die oogarts oor die probleem met sy oog ingelig.
“Sy het dit egter toegeskryf aan moegheid van my oog omdat ek vir ’n tyd sonder ’n bril moes klaarkom.”
Kort hierna het Scott besef hy kan werklik nie meer uit sy oog sien nie. Met slegs een hoek en met sy kop gedraai het hy visie gehad.
’n Besoek aan ’n spesialis in Benoni het die skokkende nuus gebring dat die retina in Scott se linkeroog losgeskeur het en dat hy onmiddellik ’n operasie sou moes ondergaan om sy sig te red.
Die koste van die operasie was R81 000 en Scott se mediese versekering sou dit nie dek nie. Volgens Jolene Coombe van Maksimum Sekuriteit kon hulle ’n aansienlike bedrag van skenkers kry. Maksimum self het ’n aansienlike bedrag tot Scott se dringende operasie bygedra.
“Uit desperaatheid het een van Scott se kinders ’n lening vir die balans van R41 000 aangegaan, maar daardie lenings moet nou terugbetaal word,” het Maksimum Sekuriteit in ’n skrywe gesê.
“Ons reik dus dringend uit na die gemeenskap en enige persoon wat kan bydra; hetsy deur ’n geldelike bydrae of deur die woord te versprei.”
“Selfs die kleinste bydrae kan help om die las te verlig. Scott het sy lewe bestee om ander te beskerm; maar nou het hy ons nodig.”
Vir finansiële bydraes skakel Maksimum Sekuriteit by 013 665 3113. Intussen het Scott sy werkgewer en elke skenker wat ’n bydrae gelewer het, bedank.
“Ook dankie aan my dogters en hul eggenotes wat my bystaan en ondersteun.”
Scott het die oggend na sy operasie en kort voor druktyd met Streeknuus gesels en was positief dat hy weer sy sig in sy linkeroog sou herwin.
“Tans is alles pikdonker, want my oog is toegemaak na die operasie, maar oor drie weke wil ek graag weer op my pos by Maksimum wees,” het Scott gesê.




