Eloff-inwoner spook tussen ontblote kabels en rommel
Buiten vir die sloot waarin die onblote elektriese kabel lê, het Saaiman ’n verdere afvoersloot om water weg te lei in tye van swaar reën.
’n Kleinhoewe inwoner van Weg 5 op Eloff, Willie Saaiman, voel die oop elektriese kabels op sy sypaadjie is gevaarlik.
Volgens Saaiman word elektriese kabels gereeld op Eloff gesteel en dit sluit ook in die kabel wat sy huis en aanliggende eiendomme van krag voorsien.
Saaiman sê dié betrokke kabel was al male sonder tal vervang, maar die sloot waarin dit gelê is, bly net so oop met kabels naby aan die grondoppervlak.
“Ek het Eskom al soveel keer geskakel; hulle kom kyk soms, net om weer met ongedane sake weg te ry.”
Dit is egter nie Saaiman se enigste probleem nie. Plakkershutte in die Mimosa informele nedersetting het oor jare voor sy perseel begin opgaan.
“Ek kan werklik nie kla oor diefstal of inbrake nie; hulle het so twee keer probeer, maar ons kon elke keer daarin slaag om die verdagtes vas te trek,” het Saaiman gesê.
“My probleem is die storting van rommel vanaf Mimosa se inwoners op my sypaadjie.”
Buiten vir die sloot waarin die onblote elektriese kabel lê, het Saaiman ’n afvoersloot om water weg te lei in tye van swaar reën.
Met Streeknuus se besoek aan Saaiman se kleinhoewe was dit duidelik dat dié sloot besoedel is met oorskiet kos, vuil babadoeke, ou kos, plastiek, blikke, bottels en vele meer.
Saaiman vertel hy het onlangs ’n werker gevra om die water afvoersloot skoon te maak.
“Die werker het egter baie gou grootoog kom sê hy nie kan voortgaan nie, want die ‘rotte is so groot soos katte’.”
Volgens Saaiman behoort die Victor Khanye Munisipaliteit dit skoon te hou en te onderhou.
“Dit is immers hul eiendom.”

Saaiman het verder vertel ’n raadslid het hom besoek oor die rommelstrooiing. Sy aanbeveling was dat Saaiman ’n laaigraaf kry en self die sloot skoonmaak.
“Hierdie sloot hét ek vir jare self onderhou, gesny en skoongemaak, maar dit het ’n onbegonne taak geword. Dit is nie meer moontlik nie, want met die oop kabels daar kan enige iets verkeerd loop en dan word ek daarvoor verantwoordelik gehou.
“Ek moet gereeld kliënte by my huis ontvang en tans laat dit my skaam met die gemors by my ingang. Wat die kabel aanbetref, hier is talle inwoners in Mimosa; wanneer gebeur dit dat ’n nuuskierige kind daar gaan lol?
“Dit lyk net nie of daar iemand is wat verantwoordelikheid vir die gemors óf die gevaar wil neem nie.”
Streeknuus het gepoog om kommentaar vanaf die plaaslike munisiplaiteit te kry, maar teen druktyd was nog niks ontvang nie.




