Graandiefstalsindikate op Delmas val onder die kollig
“Ons boere word deurgaans deur hierdie sindikate, waarvan een of meer beslis vanaf Delmas opereer, geteiken en verloor baie geld in die proses.”
‘n Volvo-vragmotor, vier verskillende registrasienommers en met ’n wettig geregistreerde Delmas-eienaar, was glo betrokke by vier verskillende graandiefstal-voorvalle.
Die vierde bekende geval het op 13 Mei plaasgevind toe noodroepe op plaaslike veiligheidsgroepe versprei was oor ’n gesteelde vrag sojabone vanaf ’n boer in die Vrystaat.
’n Persoon wie toevallig in die ry gestaan het om graan af te laai, het glo die gesoekte vrag by Afgri se silo’s op Hawerklip opgemerk en belanghebbendes in kennis gestel.
’n Risiko-konsultant (RK), ook betrokke by ander ondersoeke na graandiefstalle en wie daarom verkies om anoniem te bly, het Streeknuus meegedeel dat hy na Hawerklip gehaas het.
“Groot was my verbasing egter om te sien dat dit dieselfde Volvo vragmotor is wat by drie ander graandiefstalvoorvalle betrokke was.
“Daar het ’n sekuriteitsbeampte wat deur Afgri gebruik word my gevra om nie betrokke te raak nie. Die voertuig waarin die ‘beampte’ gery het, het ook vervalste nommerplate gehad,” het die RK Streeknuus meegedeel.

“Daar is reeds drie sake waartydens daar positiewe inhegtenisnames gemaak was en saaknommers bestaan; waarom was hierdie vragmotor nooit deur die polisie verbeurd verklaar nie?” was die konsultant se vraag.
Volgens inligting was die ander drie gevalle waarby dié spesifieke Volvo betrokke was, een in Devon waarby ’n vrag vanaf ’n wettige vervoerder gekaap en oorgelaai was op die Volvo. (Streeknuus, 21 Februarie).
In beide die derde en vierde geval was boere van die Vrystaat die slagoffers van die moontlike sindikaat wat onder andere gebruik sou maak van die spesifieke Volvo-vragmotor.
Die vrag van 13 Mei was wel gelewer onder die portefeulje van ’n kommoditeitsmaatskappy, geleë in Potchefstroom (bekend aan Streeknuus).
Die bestuurder van die vragmotor was in hegtenis geneem en volgens verdere inligting is die Volvo tans in die polisie op Delmas se kamp 13.
RK het Streeknuus verder ingelig dat daar op 14 Mei weer by Hawerklip en weer onder die dieselfde kommoditeitsmaatskappy se portefeulje gepoog was om ’n vrag af te laai.
LEES OOK: Bethal police seek public’s help to identify unclaimed human remains
“In hierdie geval was ’n ou agt-ton Mercedes-vragmotor gebruik, ook geregistreer in Delmas, en daar was gepoog om ’n vrag sojabone te lewer.”
Die polisie het egter op die toneel aangekom, beslag gelê op die vragmotor met sy vrag nog aan boord. Geen bevestiging kon verkry word of die bestuurder van dié vragmotor ook in hegtenis geneem was nie, maar daar was wel op sy selfoon beslag gelê.
“Intussen verdwyn vragte met tonne graan daagliks – die boere belê in ons land se ekonomie, probeer om voedselsekerheid te verseker, die insetkostes is hoog, hy stroop, net om daardie vrag in die hande van graandiefstal sindikate te verloor.
“Die ekonomie ly ernstige skade. As so ’n gesteelde of gekaapte vrag nie teruggevind word nie, lei die boer of die versekeringsmaatskappy of die makelaar of al drie skade,” het RK bygevoeg.
“Massiewe bedrae aan siviele eise is ook dikwels die gevolg van graandiefstal wanneer versekeringsmaatskappye in sommige gevalle teëstribbel om uit te betaal.
“Ons boere word deurgaans deur hierdie sindikate, waarvan een of meer beslis vanaf Delmas opereer, geteiken en verloor baie geld in die proses.”
RK reken verder dat portefeuljes te maklik by groot graanmaatskappye bekom word, bewyse van plase en boerderybedrwighede hoef nie meer gelewer te word nie; enigiemand kan ’n portefeulje kry en groot maatskappye word sodoende geïnfiltreer en die ketting van korrupsie word net al hoe langer.
Volgens hom is die saak na die Valke verwys vir verdere ondersoek. Streeknuus het egter bevestig dat die polisie se eenheid teen georganiseerde misdaad in Mpumalanga die saak ondersoek.
Die joernalis is meegedeel dat weens die sensitiwiteit van die saak, nog geen inligting bekend gemaak kan word nie.
Hierdie storie is in wording. Lees meer in ’n volgende uitgawe van Streeknuus.




