Oud-Delmasser en hoë in rugbykringe bring hulde aan sy alma mater
“Ek glo dat ’n mens al die fasette van die hiërargie moet beleef om ’n breë kennis en goeie menseverhoudings te handhaaf.”
Grootgeword op Delmas; by Heidi Kleuterskool en daarna Laerskool- en Hoërskool Delmas skoolgegaan – dit is Johan Meyer.
Johan is getroud met Hele-Marié, ook ’n oud-Delmasser en die paartjie het twee dogters, en Liané en Mianke.
Johan en Hele-Marié se storie is baie spesiaal, want hul paaie het al in hul kleuterskool dae gekruis. Op laerskool was sy Johan se Valentyn, maar as paartjie loop hulle al die pad sedert Graad 11 saam.
Johan se geskiedenis op Delmas kom ’n ver pad.
Beginnende by Heidi in 1996, daarna na Laerskool Delmas waar hy duidelike herinneringe koester van die Graad Een-onderwyseres, Debbie Matthysen. Op Hoërskool was hy in 2009 onder hoofseun en koshuis hoofseun.
“By Hoërskool Delmas was meneer Peet Engelbrecht een van dié wat ’n groot impak op my gemaak het,” het Johan gesê.
“Meneer Peet was streng en reguit; geen mens kon vinniger van een plek na ’n ander beweeg as hy nie en ’n pak slae kon hy op die regte tyd gee.”
“Hy was soos ’n vaderfiguur vir baie seuns in die koshuis. Hy het vir ons van dissipline geleer, maar ons ook aangemoedig om lewenslustig te wees.”
Johan het na skool sy honneursgraad in ‘Educational Management Law and Policy’ by Tukkies verwerf. Hy en Hele-Marié het albei in 2013 graad gevang. Johan het voorts sy BEd honneursgraad verwerf.
Johan se onderwysloopbaan het in 2014 by die Middelburg Primary School afgeskop. Dit is ’n skool met 800 leerders en hy is tans die departementshoof vir sport en wetenskap by dié skool.
Hele-Marié is ook tans ’n onderwyser in Middelburg. In 2015 het Johan se liefde vir rugby en sy bestuurgehalte het reeds na sy loopbaan oorgespoel toe hy as afrigter en ‘chaperone’ by die Pumas begin het.

“Ek glo dat ’n mens al die fasette van die hiërargie moet beleef om ’n breë kennis en goeie menseverhoudings te handhaaf.”
In 2025 is Johan as hoofafrigter vir die o12 Pumaspan aangestel, maar is tans ook die o7-afrigter. Sy liefde vir rugby het verder ’n besliste invloed op die jong rugbyspelers van Middelburg Primary gehad.
Volgens Johan het dié skool se eerste rugbyspan vanjaar geskiedenis gemaak.
“Ons skool is besig om ’n seisoen te beleef wat as een van die skool se beste nóg aangeteken kan word.”
Middelburg Primary se span is tans bo-aan die puntelys in die Nkangala Groot Skole Liga, met slegs twee sleutelwedstryde wat nog voorlê.
“Wat die groep spelers so uitsonderlik maak, is nie net hul talent nie, maar hul vermoë om as ’n hegte eenheid op te tree.
“Elke speler verstaan sy rol en dra aktief by tot die span se sukses. Dit is hierdie balans tussen individuele briljantheid en spanverband wat ons skool se rugby na nuwe hoogtes neem.
“Die kern van dié sukses lê in jare se volharding. Ons leer die seuns om tot die einde toe te veg. Elke wedstryd is ’n kansom karakter te wys – nie net op die telbord nie, maar in hoe hulle speel,” het Johan verduidelik.
Dié benadering, tesame met ’n buigbare spelplan wat aangepas word by die span se sterk punte, blyk die wenresep te wees en met verskeie oorwinnings blyk die resep beslis te werk.
“Die eer kom my egter nie alleen toe nie. My hoof, mede-afrigters, ouers en borge is deel van die plan van sukses; saamstaan en saam wen.
“My pa Frederik het ook nooit ’n rugbywedstryd gemis nie en juis daarom probeer ek dieselfde vir my rugbyseuns doen; veral vir die seuns wat sonder ’n vaderfiguur grootword of nie altyd die voorreg van ouerondersteuning in die koshuis kan geniet nie.”

Johan vertel hy is deel van die Pumas se bestuurskorps, is provinsiale keurder en ook die voorsitter van Nkangala rugby.
“Al hierdie dinge is aards en genade, maar tog neem ek wonderlike herinneringe van my alma mater, die gemeenskap en dorp saam,” het Johan begevoeg.
“My liefde vir rugby, begrip van kinders en my leier- en bestuureienskappe lê ek aan die voete van Delmas en onderwysers soos juffrou Debbie en meneer Peet; dit is waar alles begin het.”
“Wat ’n besonderse ervaring was dit toe ons vanaf Middelburg vroeër vanjaar op Delmas aan rugby en netbal deelgeneem het en ek toe vir Juffrou Debbie, my laerskoolonderwyser van 27-jaar gelede, raakloop.”
“En soos die leuse van Hoërskool Delmas, glo ek steeds: ‘goed begin is half gewin en om te sing, want die lewe is mooi’.”




