Secunda-inwoner verskyn in Die Brug 2
Dit was moeilik om binne 13 dae ’n brug te bou, het Johan Steyn vertel.
Plaaslike inwoner Johan Steyn (56) is tans te sien op die kykNET-realiteitsreeks Die Brug 2. Hy was baie verbaas en verras toe hy hoor hy is gekies as een van die deelnemers wat ’n brug moet bou.
Steyn vertel dat hy en sy vrou, Myrna, die eerste reeks gekyk en baie geniet het. Toe hulle verneem het dat ’n tweede reeks op pad is, het hy sy twee volwasse kinders aangemoedig om in te skryf.
“Hulle het my egter uitgedaag om self in te skryf. Hulle het gesê: ‘Hoekom skryf pa nie in nie?’ en ek het gedink, hoekom nie?”
Sy dogter, Petra, het hom gehelp om ’n video te maak waarin voornemende deelnemers hulself moes voorstel en verduidelik hoekom hulle deel van die reeks wil wees.
“Na die video was daar twee onderhoude, en toe hoor ek ek is in. Ek het dit glad nie verwag nie. Dit was buite my gemaksone om ’n video te maak, en nog meer om aan so ’n reeks deel te neem.”
Steyn werk al 31 jaar by Sasol, en die afgelope paar jaar as rotsmeganikus. Vroeër in sy loopbaan het hy as mynbou-ingenieur gewerk.

Hy hoop om eendag ná aftrede te boer en het reeds saam met vriende op ’n stuk grond tussen Trichardt en Bethal geboer. Ná ’n groot oesverlies weens min reën verlede jaar, het hulle ’n ander stuk grond naby Rayton gekry, waar hy deesdae in sy vrye tyd “boer speel”.
Een van sy stokperdjies is ook byeboerdery en die maak van heuning. Ds Hannes Reinecke, wat self ook met bye boer, het Steyn ses jaar gelede aan dié stokperdjie bekendgestel.
“Die by is ’n ongelooflike spesie. As dit nie vir hulle is nie, sal ons nie vrugte hê nie,” het hy gesê.
Steyn moes drie weke verlof neem vir die verfilming van Die Brug 2, wat by die Garden Route-dam naby George plaasgevind het.
Die spanne het 13 dae gehad om die brug te voltooi. Gedurende hierdie tyd het Steyn geen kontak met sy familie of enigiemand buite gehad nie.
Die deelnemers moes hul selfone inhandig aan die begin van die verfilming en het dit eers ná afloop van die reeks teruggekry.
LEES OOK: Govan Mbeki Municipality probes R20m security contract irregularities
“Dit was eintlik besonders om vir twee weke afgesny van die wêreld te wees en net op die bou van die brug te fokus.”
Steyn was nog altyd lief vir die buitelewe, en Die Brug 2 was vir hom ’n wonderlike avontuur – al was dit harde werk. Hy het goed met sy spanmaats oor die weg gekom en van die begin af besluit om ’n bietjie terug te hou en nie te veel leierseienskappe te toon nie.
“’n Mens weet nie altyd of jy voluit moet gaan of terughou nie. Omdat ek die oudste was, het ek besluit om nie te veel van ’n leierskaprol aan te neem nie. Die dinamika in die groep verander vinnig, en die spel kan binne ’n oomblik heeltemal anders wees.”
Aanvanklik was Steyn ongemaklik met die kameras en mikrofone om hom, maar na twee dae het hy daaraan gewoond geraak.
Hoewel hy gereeld draf, het hy voor die reeks by die Sasol-gimnasium gaan swem om fiks te bly.
“Ek het nie geweet wat om te verwag nie, en gedink dit sal goed wees om swemfiks te wees. Maar ek moes dalk eerder op roei as op swem gefokus het.”
Na afloop van die verfilming het hy veral uitgesien daarna om weer met sy gesin kontak te hê, ’n warm stort te neem, en om groente, vrugte, pap en wors te eet. Steyn en Myrna is groot diereliefhebbers en het vier honde.
Hy is dankbaar vir die geleentheid om aan Die Brug 2 deel te neem en hy en sy gesin kyk elke Donderdagaand getrou na die uitsending op kykNET.
LEES OOK: Kinross police discover body of missing teenage girl – suspect in custody for another murder



