Local newsNewsStreeknuus

Delmas VLU-tak kom meer te wete oor herwinning

“Elna Kruger het aan ons lede verskeie maniere gewys waarop ons ou denim kan gebruik om ’n plantpot te versier.”

Die VLU Delmas-tak het op 20 Mei op uitnodiging van Elna Kruger by Selah op Delmas byeengekom.

Trudie Langeveld en Reynette Vermaak was as gaste verwelkom. Die voorsitter, Marié Terblanche, het die vergadering geopen met gedagtes rondom herwinning.

“Soos die mens in Genesis opdrag ontvang het om die tuin te bewerk en te bewaar, so het ons die verantwoordelikheid om daardie opdrag daagliks uit te leef deur die skepping te eerbiedig en te versorg,” het Marié gesê.

“Ons is geneig om maklik weg te gooi, maar God gooi niks en niemand weg nie – Hy gee mens ’n tweede kans, en om te herwin en hergebruik is om dankbaarheid teenoor die Here te toon.”

Reëlings vir die volgende vergadering se borduurklas is toe bespreek.


An older woman standing next to a cake.
Elna Kruger wys al die fasette van dié besonderse vatlap wat uit ‘n gebruikte denim broeksak gemaak is.

“Ons gaan ’n sakkie maak waarop ons verskillende borduursteke gaan leer,” het Magriet Swart, die skakelbeampte, vertel.
Marcia Keen gaan ook ’n ekodruk-werksklas in Junie aanbied.

Dié uitdagende kunsvorm behels die uitlê van ’n verskeidenheid plantmateriaal op die doek. Dit word dan opgerol en gestoom om sodoende besonderse blaarafdrukke op die materiaal te laat.

Elna Kruger, Vinkie Mulder, Ansie van Zyl, Madeleen Blane en Marie Jordaan gaan dié klas bywoon en sien uit na die eindprodukte.

’n Kuier-en-kletsdag word vir 19 Junie beplan.

“Dit word ten bate van ’n geldinsameling gehou waarvan die wins na VLU Mpumalanga gaan, wat die SA VLU kongres in 2027 sal aanbied,” het Magriet bygevoeg.


An older woman standing next to a cake.
Vinkie Mulder, Reynette Vermaak en Elma Labuschagne in ligte luim.

Ook onder bespreking was die Mpumalanga kongres wat vanjaar van 20 tot 21 Augustus in Middelburg plaasvind.

’n Verskeidenheidskonsert ter viering van Afrikaans se 100ste bestaansjaar sal tydens die kongres aangebied word. Met die vergadering op ’n einde was dit tyd om met die werksklas te begin.

“Elna Kruger het aan lede verskeie maniere gewys waarop ons ou denim kan aanwend om ’n plantpot te versier,” het Magriet bygevoeg.

“Dit wissel van stensilwerk met tjoko-verf, borduurwerk, slim planne met uitknip en plak, en ook om materiaal uit te rafel en stroke te hekel – die moontlikhede is legio.”

Terblanche nooi alle belangstellende vroue om aan die aktiwiteite deel te neem. Vir meer inligting kan Terblanche by 083 968 2203 geskakel word.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button