Local newsNewsStreeknuus

Hervormers Voetspoorfees bring genot, vermaak op Delmas

Daar was op die dag ook hare gekleur ten bate van DPS Pleegsorg en die mylpaal om 500 koppe te kleur was sommer gou behaal.

Die Hervormde Kerk op Delmas het op 31 Mei hul immergewilde Voetspoorfees aangebied. Met Nico Booisje se kwinkslae, musiek en sang was die atmosfeer een van feestelikheid en groot vermaak.

Verskeie skole het vir vermaak gesorg, waaronder die laerskole Eloff, Delmas en Sundra, asook die kleuterskole Heidi en Bronkhorstspruit. TLC Kidz se pom-poms en die Delmas gimnastiekklub-lede het asemrowende vertonings gelewer.

Die kerk se gewilde toutrekkompetisie het ook weer plaasgevind. Die kerke wat deelgeneem het, was Eldamah Bedieninge, die Pinkster Protestante Kerk, en die gasheer, die Hervormers.


Delmas gimnastiekklub lede vermaak feesgangers.

Ná ’n paar uitspookrondes het die span van die Hervormers koning gekraai. Daar was ook tyd vir boeresport, en die manewales het groot vermaak vir die feesgangers gesorg.

Wat sou ’n kerkbasaar wees sonder tradisionele kerrie-en-rys, worsrolle, pap-en-kaiings, pannekoek en vetkoek?

Die poedingtafel het gekreun onder die allerlekkerste soetighede, en die koektafel het voorsien in varsgebak soos beskuit, koeke, koeksisters, melktert, tuisgemaakte konfyt en meer.


Delmas gimnastiekklub lede sorg vir ’n asemrowende vertoning tydens die Voetspoorfees.

Die biltong- en droëworsstalletjie het ook weer eens gesorg vir die allerlekkerste biltong. Vir die jongklomp was daar ’n mallemeule-speelpark en ’n springkasteel, wat in die kerk se koeikamp opgeslaan is, waar die kleingoed behoorlik kon baljaar.

Op die dag is daar ook hare gekleur ten bate van DPS Pleegsorg. Die mylpaal om 500 koppe te kleur is sommer gou behaal.

Die Hervormers se predikant, doktor Martin Janse van Rensburg, het voor die Voetspoorfees die onderneming gegee dat hy sy hare sou afsny indien die mylpaal bereik word.


Mossie van Niekerk van Sundra by haar stalletjie met allerlei tuisgemaakte items.

So gedoen, so gedaan – ’n nommer-een-kammetjie is deur sy hare getrek. Verskeie van die kerkraadslede het hierby ingeval, en die hare én baarde het behoorlik gewaai.

Besoekers aan die Voetspoorfees was dit eens: “Die weer was lekker, die vermaak plesierig en die kos lekker.”

Janse van Rensburg het elkeen bedank wat die Voetspoorfees bygewoon en ondersteun het.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button