Local newsNewsStreeknuus

Delmas Supa Quick is onder nuwe bestuur – gereed om top diens te lewer

Met uitgebreide veld- en kliëntediens en die vaardigheid en kennis van die bestaande personeel op die vloer en in die veld, beplan dié twee vennote om Delmas Supa Quick tot hoër hoogtes te neem.

Johan Grobler en Deon Wehmeyer is reeds vir 40 jaar hegte vriende en is nou ook in ’n toegewyde vennootskap, gereed om topgehalte diens aan die gemeenskap te lewer.

Met uitgebreide veld- en kliëntediens, die vaardigheid en kennis van die bestaande personeel op die vloer en in die veld, beplan dié twee vennote om Delmas Supa Quick tot hoër hoogtes te neem.

Grobler woon al 25 jaar in Delmas, en is ’n bekende gesig op die dorp en veral onder die boeregemeenskap. Hy is sedert 2000 in die landboubedryf betrokke en ken en verstaan die boere en hul unieke behoeftes goed.

Grobler sal voortaan die bestuurder van Supa Quick op Delmas wees en sien daarna uit om die gemeenskap van Delmas en omgewing tot diens te wees. Wehmeyer het op sy beurt vertel dat hy die bandebedryf ken en verstaan.

“Met 30 jaar ondervinding in die bedryf, kan ek myself ’n kenner noem van bande vir passasiersvoertuie, grondverskuiwingsmasjinerie, bo- en ondergrondse mynbouvoertuie, vragmotors en selfs plaasimplemente.”

Self ’n boer, het Wehmeyer ook die kennis en agtergrond om boere in hul unieke landboubehoeftes met bande by te staan.

Wehmeyer het in 2020 by die Konics-groep betrokke geraak en is ook die eienaar van onder andere Supa Quick Express op Bethal en Dunlop Express Konics op Morgenzon, met die nuwe toevoeging, Supa Quick op Delmas.

“Ek glo ek en Johan kan kundige ondersteuning aan ons kliënte in Delmas en omgewing bied.”

Volgens Grobler gaan daar voortaan klem op veldienste geplaas word.

“Boere se landbouvoertuigbande kan nou op die plaas vervang of herstel word. Ons gaan verder ook, vir die gemak van ons kliënte, ’n wye verskeidenheid bande vir passasiersvoertuie in voorraad hou.”


Roulien Grobelaar, Johan Grobler, Percy Mahlangu, Jaco Basson, Corlia McIntosh, Sophie Mqwati, Jan Dladla, John Molobeledi, John Mqwathi en Freddy Buthelezi.

Beide Wehmeyer en Grobler het benadruk dat hulle groot skoene het om vol te staan.

“Ons kan nie Supa Quick op Delmas oorneem sonder om eer aan die vorige eienaar en sy gesin te bring nie.”

Supa Quick was sedert 2003 gekoppel aan Hennie van Schalkwyk, sy vrou Elsa en hul dogter Corlia McIntosh; altyd gereed om kliënte met raad en daad by te staan.

Van Schalkwyk het besluit om die bandebedryf vaarwel toe te roep en ’n ruskans vir hom en Elsa te neem. Corlia bly egter vir eers aan om Grobler en Wehmeyer in die oorgang by te staan.

“Aan Hennie en sy gesin bring ons al die eer. As vennote en nuwe bestuur wil ons voortbou en uitbrei op die legende wat Hennie-hulle hier op Delmas begin het.”

Wehmeyer en Grobler het ook benadruk dat hulle die bestaande personeel behou – sommige van hulle is al vir sowat 19 jaar in diens van Supa Quick. Op haar beurt het Corlia die twee nuwe vennote voorspoed toegewens.

“Namens ons familie, dankie ook aan ons gemeenskap vir hulle ondersteuning oor al die jare en vir hegte vriendskapsbande. Ons laat julle in die bekwame hande van Johan en Deon.”

Grobler en Wehmeyer is opgewonde oor die veranderinge wat aan die struktuur beplan word.

“Ons het reeds begin met verbouiings aan die perseel en gaan Supa Quick Delmas ’n splinternuwe, verwelkomende en vriendelike baadjie aantrek.”

Wehmeyer en Grobler hoop om die opening van die verbeterde Supa Quick teen die einde van Junie te open.

“Intussen is ons daar om in elke om in elke bandebehoefte van die gemeenskap, insluitend die landbougemeenskap, te voorsien.”

Die vennote het ook aan elkeen van Supa Quick Delmas se bestaande kliënte en rekeninghouers die versekering gegee dat hul status behoue bly.

“Ons is toegewyd om vinnige, betroubare en topgehalte diens aan al ons kliënte te lewer. Kom loer by Supa Quick in en kom groet ons,” het Wehmeyer en Grobler afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button