Bronkhorstsbaai-egpaar steeds op lang pad na herstel ná trompop-botsing
“Ek is net baie dankbaar dat ons albei nou by Steve Biko behandel word en verdere operasies kan ondergaan.”
Cassie en Betsie Coetzee is op die lang pad van herstel ná hulle in ’n trompopbotsing naby Mathubaba betrokke was.
Betsie, wie se arm en elmboog erg beseer is in die ongeluk, is tans in die Steve Biko Hospitaal in Pretoria. Sy sou teen druktyd weer op 15 Junie ’n operasie ondergaan.
“Ek het nogal gedink dat ek byna gereed is om na my werk by Ons Eie Ouetehuis op Delmas terug te keer,” het Betsie vertel.
Groot was die skok toe sy verneem het dat die arm nie reg aangegroei het nie, en dat dokters nou wag om ’n verdere skandering te doen.
Betsie is aanvanklik in ’n hospitaal in Empangeni geopereer, waar penne in haar vergruisde arm geplaas is. Volgens Betsie het dokters van Steve Biko egter nou agtergekom dat die bene in haar arm nie behoorlik in lyn is nie.
“My arm moet nou weer gebreek word – die proses begin dus van voor af, en dit blyk ’n ingewikkelde operasie te wees wat voorlê.”

Op ’n vraag aan Betsie oor hoe dit met Cassie gaan, het sy bevestig dat hy vir eers uit die Steve Biko Hospitaal ontslaan is.
Cassie se kakebeen is op ’n paar plekke gebreek en sy enkel is in die ongeluk vergruis. Hy moet eers sterker word voordat dokters met operasies kan voortgaan.
“Weefsel moet eers groei en ligamente sterker word – dit lyk of dit nog ses maande sal neem voordat dokters weer op Cassie kan opereer,” het Betsie gesê.
“Ek is net baie dankbaar dat ons albei nou by Steve Biko behandel word en verdere operasies kan ondergaan.”
Betsie het genoem dat die behandeling by Steve Biko werklik goed is en dat sy vol vertroue in die dokters is. Volgens Betsie woon Cassie tans by haar dogter en skoonseun, Evette en Gideon Benadie, in Pretoria.
“Cassie is heeltemal te swak om terug te keer na ons huis in Bronkhorstbaai. Hy sal nie na homself kan omsien nie, en kan ook nog nie werklik op sy voet staan nie.

“Voor Cassie se ontslag en my heropname het ek ook by my dogter en haar gesin gebly – ons is baie dankbaar vir hulle omgee, liefde, hulp en bystand,” het Betsie bygevoeg.
Betsie het ook namens haarself en Cassie baie dankie gesê aan die gemeenskap tuis vir hulle belangstelling, hulp en liefde.
“Spesiale dank ook aan Gys en Judith Taute – hulle help ons baie.”
Soos berig in Streeknuus (25 April), was die Coetzee-egpaar op 21 April op pad huis toe van St. Lucia ná ’n Paasvakansie saam met vriende, Leon en Riekie Schutte. Die ongeluk het kort ná hul vertrek op die pad tussen St. Lucia en Mtubatuba in KwaZulu-Natal plaasgevind.
Die oggend met hul terugkeer het die ongeluk ten aanskoue van Leon en Riekie plaasgevind toe ’n bakkie verbygesteek het en van voor met die Coetzees se voertuig gebots het.
Die toneel is beskryf as een van chaos, bloed en hartseer. Vir die Coetzees is die pad van herstel nog ’n lang en geduldige een.
“Ons leef en daarvoor is ons baie dankbaar,” het Betsie afgesluit.



