Secunda-boorling draf nou in Rusland op die rugyveld uit
Lourens Pretorius draf as binnesenter vir Krasnoyarsk, ’n dorp in Siberië, uit.
Lourens Pretorius (30), skrik nie vir ‘n Rus nie. Hy vat hulle gereeld aan – op die rugbyveld.
Dié boorling van Secunda speel al die afgelope vier jaar professioneel rugby in Rusland. Hy draf as binnesenter vir Krasnoyarsk, ’n dorp in Siberië, uit.
Pretorius het boonop al vier keer as deel van ’n Barbarians-span teen die nasionale rugbyspan van Rusland gespeel.
“Rugby is die elfde grootste sport in Rusland,” het Pretorius verduidelik.
Sowat ses ander Suid-Afrikaners speel saam met Pretorius in dieselfde span. Hy beskryf dit as ’n klein stukkie tuiste in ’n vreemde land.

“Daar is ’n lekker Suid-Afrikaanse gemeenskap aan hierdie kant.”
Pretorius is op Trichardt gebore en het op Secunda grootgeword, waar hy ’n leerder aan Laerskool Goedehoop was en later aan Hoërskool Secunda gematrikuleer het.
Hy, en die keurders, het eers toe hy reeds op universiteit was, werklik sy rugbytalent ontdek.
“Hoewel ek op skool ‘n Bokkieweek of twee bygewoon het, was ek nooit vir Craven-week gekies nie. Ek het darem vir die skool se eerste span gespeel.”
Pretorius het in 2013 met sy BSc Konstruksiebestuur-studies aan die Universiteit van Pretoria (Tuks) begin en het ook aan koshuisrugby deelgeneem.

“My HK vir sport, wat vir Tuks se o.21’s gespeel het, het my na die oefening saamgenooi, en so het ek vir Tukkies uitgedraf,” het Pretorius vertel.
Hy het daardie jaar ook vir die o.19-span, wat meer kompeterend was, gespeel.
Pretorius se rugbyloopbaan het vandaar af vlamgevat in vyftiental en sewes, met verskeie deelnames aan die Carltonbeker-reeks en die Varsityreeks gedurende sy jare by Tukkies.
Hy het ook vir die Blou Bulle Limpopo-span aan die Curriebekerreeks deelgeneem, en vir ’n jaar lank het Pretorius vir die Blou Bulle se juniors punte ingebring.
Sy studies het begin agterweë bly, het Pretorius gebieg, en daarom het hy in 2017 besluit om op sy studies te fokus en slegs aan koshuisrugby deel te neem.

Die volgende jaar het hy sy graad voltooi en ook met mening weer ingeklim om vir Tuks in die Superliga te speel. Hy het selfs vir ’n nagraadse kursus ingeskryf sodat hy vir nog ’n jaar die universiteit se kleure kon dra en in die Varsity Cup-eindstryd teen die Maties kon speel.
’n Besering aan die einde van die seisoen het sy hoop om verder rugby te speel, gekelder. Pretorius het na Secunda teruggekeer en vir ’n jaar lank in die konstruksiebedryf gewerk.
“Ek het in daardie tyd slegs vir een wedstryd die trui van Sasol Rugbyklub se eerste span aangehad en die span as kaptein aangevoer. Toe kom alles tot ’n stilstand met Covid-19 se grendeltyd en word rugby gekanselleer,” het Pretorius verduidelik.
Hy was dankbaar om in 2021 weer die spel by die Harlequins in Pretoria op te neem.
“Dis hier waar ’n vriend uit my studentejare my aan die einde van 2021 geskakel het met die voorstel dat ek in Rusland gaan rugby speel. Ek moes egter eers ’n proeftydperk van drie maande voltooi.”
LEES OOK: eMbalenhle community rescues over 100 boys from illegal initiation schools in Standerton
Hy vertel dat, hoewel die oorlog dikwels in die nuus is, dit steeds relatief veilig daar is.
“Die mense gaan normaalweg aan met hul lewens en, behalwe vir die sanksies, word hulle nie direk geraak nie. Ons is ’n groepie Suid-Afrikaners hier, ons hou styf bymekaar en kuier gereeld saam. Hoewel die winter in Siberië erg is, geniet ek die somer.”
Pretorius is vroeër vanjaar met Jenine, ’n graad een-onderwyser van Bronkhorstspruit, getroud, en sy gaan eersdaags by hom in Rusland aansluit.
“Ons het besluit om ’n geloofstap te neem – en saam te bid dat ek ook in Rusland ’n werkgeleentheid sou kry. Ek kan nie wag om saam met my man hierdie nuwe avontuur aan te pak nie. Nou beplan ons om vir die volgende drie tot vier jaar in Rusland te woon,” het sy vertel.
Pretorius is dankbaar vir hierdie tweede kans om rugby te kan speel.
“Dit is ’n voorreg om nog te kan speel, juis omdat ek voorheen rugby so half in my lewe verloor het. Ek sien hoe die Here se hand my gelei het. Hy het die geleenthede vir my geskep.”



