SAVF wil babahuis op Secunda oopmaak
Organisasie kort finansiële hulp om droom te bewaarheid.
Die idee om ’n babahuis op Secunda oop te maak, het ontstaan uit die nood wat by die SAVF Kinderhuis ervaar word.
Daar stroom al hoe meer aansoeke vir die versorging van babas en kleuters in as wat daar hulpbronne beskikbaar is.
Volgens Mari Louw, maatskaplike werker en bestuurder van die SAVF, word babas toenemend agtergelaat deur moeders wat nie kans sien om vir hul kinders te sorg nie.
“Sommige mammas los hul babas buite of gooi hulle selfs in asblikke,” het Louw gesê. “Ek het met hartseer van twee gevalle gelees waar babas ná geboorte vermoor en gevries is.”
Die SAVF Kinderhuis, wat in 2022 geopen is, kan tans 24 kinders en vier babas huisves. Louw verduidelik dat hulle weekliks versoeke ontvang vir die plasing van baba’s in ’n veilige omgewing.
“Babas moet nie lank in versorging bly nie. Maatskaplike werkers probeer hulle so gou moontlik by familie of pleegsorggesinne plaas. Tog het ons besef dat die behoefte aan ’n veilige plek vir babas al hoe groter raak.”
LEES OOK: MMC and Ward 14 councillor in Govan Mbeki Municipality resigns
Die beplande babahuis sal ’n veilige ruimte bied vir moeders wat nie langer vir hul baba kan sorg nie. Hulle sal hul kind daar kan laat agterlaat, waarna personeel die kind sal inneem en versorg.
Die SAVF mik om die babahuis teen September te open. Dit sal langs hul huidige kantore geleë wees. Louw en haar span beplan om die bestaande stoorspasie – waar die tweedehandse winkeltjie tans is – om te skakel in ’n huis met slaapkamers, badkamers, ’n sitkamer en kombuis.
Twee groot skeepsvraghouers (2x6m) sal op die oop grond langs die kantore geplaas word vir stoorspasie en die tweedehandse winkel. Kinders van vyf jaar en ouer sal steeds in die kinderhuis woon, terwyl die babahuis kinders onder vyf sal akkommodeer.
Die nuwe babahuis sal tot 10 baba’s en jong kinders kan huisves. Die SAVF is volledig afhanklik van donasies om dié droom te verwesenlik, aangesien geen finansiële ondersteuning van die Departement vir hierdie projek ontvang word nie.
Benewens die twee skeepsvraghouers, benodig hulle ook babamelk, doeke, eetstoeltjies, yskas, mikrogolf, klein konveksie-oond, bababottels, buite-speeltoerusting en klimrame vir kinders jonger as vyf.
Sommige van hierdie items, soos melk en doeke, word maandeliks benodig. Dié koste beloop sowat R1 500 per baba per maand. Vir meer inligting of om die projek te ondersteun, kontak die SAVF by 017 634 7719.
LEES OOK: Govan Mbeki Municipality probes R20m security contract irregularities



