Local newsLocal sportNews

Oud Kriel-inwoner bereik nuwe hoogtes in Amerikaanse netbalsirkels

Mignon du Plessis is as kapten van die Amerikaanse Netbalspan verkies wat in Dubai deelgeneem het.

Mignon du Plessis (30) is onlangs gekies as die Amerikaanse netbalspankaptein wat haar span in die Verenigde Emirate Netbalkampioenskap in Dubai gelei het.

Du Plessis het tot op 14-jarige ouderdom op Kriel gebly en toe na Middelburg verhuis, waar sy in die koshuis gebly het.

Sy het in Graad Een begin netbal speel en toe sy in Graad Drie was, het haar ma, Annie du Plessis, haar span begin afrig.

“Vandat my ma ons begin afrig het, het ons span nie weer een wedstryd verloor nie. My ma is die soort afrigter wat met jou kop werk; sy laat jou glo jy kan. As dit nie vir haar was nie, sou ek nie so ver in my netballoopbaan gekom het nie,” het Du Plessis vertel.

Vanaf Graad Sewe het Du Plessis jaarliks haar Mpumalanga-netbalkleure gekry, en haar span het daardie jaar silwer by die Suid-Afrikaanse Netbalkampioenskap verower.


Mignon du Plessis by haar Borderkollie-hond, Cooper. Foto: Verskaf

Op hoërskool het sy steeds netbal gespeel en in Graad Agt is sy vir die o14-Bokkie netbalspan gekies. Na haar skoolloopbaan het Du Plessis vir ’n jaar by ’n bank op Machadodorp in die finansiële dienste en beplanningsafdeling gewerk.

Na ’n jaar het sy besluit om dié werk verruil om as au-pair in Amerika te gaan werk. Na twee jaar as au-pair in Washington DC het Du Plessis vir ’n jaar na Suid-Afrika teruggekeer en op ’n wynplaas gewerk, voordat sy haar geboorteland weer vir Amerika verruil het.

Sy woon al agt jaar in Amerika, het aanvanklik as administratiewe assistent by ’n somerkamp gewerk, en werk deesdae as analitiese bestuurder by die tegnologie-afdeling van ’n gesondheidssentrum.

Toe sy nog ’n au-pair was, het iemand van VSA Netbal haar genader om vir hulle te speel, maar sy kon nie omdat sy toe nog nie Amerikaanse burgerskap gehad het nie.

Sy het in 2022 deel geword van Amerika se nasionale klub-netbalspan nadat ’n mede-netbalspeler wat sy ontmoet het toe sy in Washington klubnetbal gespeel het, haar genader het.

Sy het in 2023 as deel van die Amerikaanse klub-netbalspan aan die Netbal Wêreldreeks Sewes-toernooi deelgeneem waar haar span tweede geëindig het.


Two women standing next to each other holding an award.
Mignon du Plessis (regs) en haar ma, Annie du Plessis, wat haar al die jare op skool afgerig het, by die netbaltoernooi in Dubai vroeër vanjaar. Foto: Verskf

Na dié toernooi het sy vir proewe vir die amptelike nasionale Amerikanase netbalspan gegaan en het in Februarie laas jaar deel geword van dié span. Du Plessis was baie verbaas toe sy vroeër vanjaar as die kaptein van die Amerikaanse netbalspan gekies is.

“Ek het dit nie verwag nie, want ek is ’n stil mens. Ek was onseker hoe om die span te lei, maar ek het toe besef ek moet net myself wees,” het sy gesê.

Die Amerikaanse span het sesde geëindig en volgens Du Plessis het dit goed gegaan.

“Ons span het nie so baie geleenthede gehad om saam te oefen soos van die ander lande se spanne nie omdat ons almal baie vér van mekaar af woon. Teen die einde van die toernooi het ons span beter saam gespeel.”

Du Plessis slyp nou haar tande vir die wêreldbeker-kwalifiserende netbalrondes in Oktober volgende jaar om in 2027 aan die wêreldbeker in Australië deel te neem.

Wanneer sy nie voltyds werk of oefen nie, spandeer sy graag tyd saam met vriendinne of gaan stap saam met haar Borderkollie, Cooper.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button