Local newsNewsStreeknuus

Tweeling vier hul 90ste verjaardag saam op Delmas

As familie is dit vir elkeen van ons ’n groot voorreg dat ‘oupa Sarel’ en ‘ouma Choeks’ hul negentigste verjaarsdag saam kon vier.”

Dit is nie elke dag wat ’n tweeling die voorreg het om hul 90ste verjaardag saam te vier nie, maar vir Sarel Cloete en Elizabeth Smit was dié seën gedurende Junie beskore.

Sarel en Elizabeth – beter bekend as ouma Choeks – probeer om jaarliks bymekaar te kom om hul verjaarsdag te vier, en vanjaar was geen uitsondering nie.

Hulle het by die Malita Aftreeoord op Delmas gekuier om dié besonderse mylpaal te vier. Die tweeling, Choeks en Sarel, is op 4 Junie 1935 in Beatrice in die destydse Rhodesië (nou bekend as Zimbabwe) op die plaas Huntcroft aan die hande van ’n vroedvrou gebore.

Volgens Sarel se vrou, Lena, het die tweeling se pa destyds geen idee gehad dat daar ’n tweeling op pad was nie.


Three women and a little girl sitting on a wicker chair.
Vier geslagte: Marietjie Louw, ouma Choeks Smit, Amé Venter en Elizna Venter (agter). Foto: Verskaf

“Hy het transport gery en geweet dat die baba op pad was, en het dus betyds huiswaarts gekeer met net een kombersie gereed vir dié geboorte,” het Lena vertel.

“Nog ’n tweeling het vir Sarel en Choeks se ouers gevolg, want drie jaar na hulle geboorte het hul ma weer ’n tweeling verwag ongelukkig was een van die tweede stel tweelinge doodgebore.”

Die oorlewende suster, Kalfie, leef ook nog en woon steeds op Beatrice.

Sarel en Lena is later getroud en het in 1978 reeds na Delmas verhuis. Behalwe vir ’n kort tydperk in Malelane, woon hulle steeds in die Malita Aftreeoord op Delmas.


An elderly couple sitting in front of a cake with a gold balloon.
Sarel Cloete en Choeks Smit tydens hul 90ste verjaardagviering by die Malita Aftreeoord op Delmas. Foto: Verskaf

Choeks woon by haar dogter, Marietjie Louw, ook op Delmas. Sarel en Lena is boonop ook van die langste inwoners van die Malita Aftreeoord op Delmas.

Met Streeknuus se aankoms by oupa Sarel en Lena se huis by Malita, was dit duidelik dat dié twee mense ’n skatkis van geskiedenis in hul huisie bewaar.

Foto’s van vervloë dae is op die yskas en mure aangebring en vertel ’n storie van die Zimbabwe-geskiedenis, ses geslagte van grootouers, ouers, kinders, kleinkinders en agterkleinkinders.

Lena, nog kiertsregop en gesond, versorg Sarel wat aan ’n gevorderde stadium van demensie ly.


Two children standing next to a plant.
Die tweeling Choeks en Sarel Cloete in die destydse Rhodesië. Foto: Verskaf

“Sarel is maar meestal bedleênd, maar daar is tog nog dae en tye wat hy onthou en dan beteken die foto’s teen die mure vir hom baie,” het Lena vertel.

“Ek sal vir Sarel sorg vir solank as wat die Here my die krag gee,” het Lena bygevoeg.

Vir die Cloete-egpaar lê daar boonop ook Augustus vanjaar ’n 65ste huweliksherdenking voor. Hulle hoop ouma Choeks en oupa Sarel se families sal volgende jaar hul 91ste verjaardag saam kan vier.

Volgens Lena was ouma Choeks ook meestal ’n Delmas-inwoner, maar het tussenin op Balfour, Greylingstad en Amsterdam gewoon.

Choeks was met Jan Smit getroud. Jan is in 2000 oorlede. Sy het sy eers in Uitbreiding 4 op Delmas gewoon, voordat sy later by Marietjie gaan woon het.

“Ouma Choeks is nog op en wakker, stap selfs gereeld om vir ’n vriendin te gaan kuier,” het Lena afgesluit.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button