Sundra-inwoner se Gideons Bybeltjie oorleef ’n verwoestende brand én jare se stoor
“Groot was die verbasing toe my klein sak-Bybeltjie soort van ongeskonde uit die oorblyfsels gehaal word.”
Sundra-inwoner, Monya van Tonder, het die meeste van haar besittings tydens ’n brand verloor, maar ’n klein sak-Bybeltjie het die hitte van die vlamme deurstaan.
Volgens Van Tonder het sy en haar dogter gedurende 2018 in ’n Wendy-huis op haar ma se erf in Die Laan op Eloff gewoon.
“Ek was by my werk op Delmas toe ek die oproep van die brand gekry het. Die skok was groot, want ek het verskeie diere gehad en my dogter was ook tuis.”
“By die huis aangekom, was dit chaos. Alles was in vlamme gehul en die brandweer was reeds daar. Ons het probeer red wat moontlik was, maar baie van my besittings het opgegaan in vlamme, en sommige van my diere het ook verkool,” het Van Tonder vertel.
Volgens Van Tonder het die gesin, nadat die brand geblus was, gekyk wat hulle uit die as kon red.

“Ons was baie verbaas toe my klein sak-Bybeltjie amper ongeskonde uit die oorblyfsels gehaal kon word. Ek het die Gideon-Bybel as kind in 1990 gekry en dit het vir my baie sentimentele waarde.
“Die brand het op 14 Augustus 2018 plaasgevind. Ek het die paar items wat gered kon word gestoor en het heeltemal van die Bybeltjie vergeet – dinge was baie deurmekaar ná die brand.”
Intussen is Van Tonder se ma oorlede, en nie lank daarna nie, ook haar pa, by wie sy destyds gewoon het.
“Ek was besig om erfgoed en besittings wat ek gestoor het uit te sorteer, toe dié Bybeltjie weer te voorskyn kom. Hoewel dit my herinner het aan daardie aaklige dag waartydens my dogter en ek basies net met die klere aan ons lyf van die brand af weggestap het, het die wonderwerk van die Bybeltjie wat daardie vlamme oorleef het, my laat wonder hoe dit moontlik was,” het Van Tonder gesê.
“Die Bybel hou ek nou op my lessenaar by die werk, want dit blyk die sleutel tot oorlewing in my lewe te wees.”



