Sables maak skoonskip
Die Standerton Sables het nog ’n spel in die Mayor Liga oorwin. Hulle het die Matsulu Mambas 59-0 geklop.
Die Standerton Sables het die Matsulu Mambas op 12 Julie met 59-0 verslaan. Die wedstryd is op Standerton Hoërskool se A-veld gespeel. Die Sables het nege drieë en sewe verdoelings geslaag.
Toe die Standerton Sables vir die eerste keer die bal ontvang het, het die Matsulu Mambas geen kans gestaan nie.
Michael Podges het binne die eerste minuut van die spel deur Matsulu se verdediging geskiet en reguit na die pale gedraf vir die eerste drie van die wedstryd.
Met uitmuntende krag en spoed het Kenny Kabye die Sables se tweede drie gedruk. Podges het hierna weer met Matsulu-spelers kort op sy hakke na die pale gehardloop vir nog ’n briljante drie.
Machiel Pretorius het met die hulp van sy medespanmaats regdeur die verdediging geseil en het reg langs die pale ’n drie gedruk.
Reinhard Swart het die Sables se vyfde drie gesorg deur dit onder die pale te druk. Marinus van der Merwe het deur die Matsulu Mambas gevleg en nog ’n drie vir die Sables gedruk.
Teen halftyd was die telling 45-0 in die Sables se guns. Nat gesweet en uitasem het die Sables die tweede helfte aangedurf. Hendrik Coetzee het kort ná halftyd nog ’n drie gedruk, gevolg deur nog ’n drie deur Jannes Lotter.
Eduan de Klerk het die laaste drie van die wedstryd gedruk. Die wedstryd is vroeër beëndig deur die spankaptein van die Matsulu Mambas, met 30 minute oor op die klok.
Met hierdie oorwinning het die Standerton Sables na die eindstryd van die Burgemeesterliga deurgedring. Hulle neem op 26 Julie tuis die span van Kriel die stryd aan.















