Local newsLocal sportNewsStreeknuus

Rayties haasbekkie mik na die sterre

In die hip-hop afdeling het sy ’n pro-goud kwalifiserende punt, tussen 85% - 89% behaal, wat vir haar ’n eerste plek besorg het.

Jolandra van der Merwe, ’n sesjarige danser van Rayton, gaan Suid-Afrika in Desember in Singapoer verteenwoordig. Tuis op Rayton is pa Hennie, ma Salandra en ouboet Henro (9) haar ondersteuningsbasis.

Volgens Salandra het Jolandra op die ouderdom van vier begin dans.

“Ons het gesien dat sy kleuterskoolkonserte geniet, goeie ritme het en sommer baie van dans hou.”

Jolandra het hierna by die Music in Motion Dance Studio in Cullinan aangesluit en onder leiding van Gretchke hip-hop-, akrobatiese- en moderne dans geleer.

Sy het onlangs in die Dance Fusion GTB wêreldkwalifiserende kompetisie uitstekend gevaar. In die hip-hop afdeling het sy ’n pro-goud kwalifiserende punt, tussen 85% – 89% behaal, wat vir haar ’n eerste plek besorg het en in die musiekteater-afdeling het sy ’n goudkwalifiserende punt tussen 80% en 84% behaal, wat haar in tweede geplaas het.

Jolandra is nou gekeur om vanaf 16 tot 20 Desember in Singapoer aan die ‘Get the Beat World’-finaal deel te neem. Tydens dié kompetisie sal sy twee solovertonings lewer.

“Vir die volgende vier maande wat voorlê gaan Jolandra hard moet oefen vir haar twee nuwe solo’s, wat ’n hoër moeilikheidsgraad het en meer geskik is vir die kompetisie,” het Salandra bygevoeg.

Daar is verder ook nog vyf ander danskompetisies voordat die kleinding op die vliegtuig na Singapoer kan klim.

“Sy is ongelooflik opgewonde oor hierdie geleentheid en het boonop nog nooit in ‘n vliegtuig gevlieg nie,” het Salandra afgesluit.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button