Sewe vermeende vragmotorkapers loop hul op Delmas in die lang arm van die gereg vas
“Dit is belangrik is om misdaad met mening aan te pak, en dié operasie is ’n bewys van ons vasberadenheid om veiligheid in ons gemeenskappe te verbeter.”

Delmas is alom bekend vir die vragmotorkapings wat in baie gevalle op die N12-hoofweg, sowel as die R50- en R42-paaie in die omgewing voorkom.
Die polisie het in die vroeë oggendure van 17 Julie ’n groot deurbraak in die stryd teen kapings in die Delmas-omgewing gemaak.
Dit volg nadat sewe vermeende kapers tydens ’n operasie op Delmas in hegtenis geneem is.
Volgens brigadier Donald Mdhluni, woordvoerder vir die polisie in Mpumalanga, het die mees onlangse geval van ’n vragmotorkaping op 13 Julie, plaasgevind.
“Dit het tot ’n intensiewe ondersoek en die inhegtenisnames kort daarna gelei,” het Mdhluni gesê.
Die suksesvolle operasie was deur verskeie polisie-eenhede, onder andere die Middelburg taktiese reaksiespan, polisielede van Delmas en Witbank, Gauteng se moord-en-roofeenheid en die teenkapingspan, die Nkangala distrikskantoor en die Gauteng provinsiale ondersoekeenheid, onderneem.
“Hierdie gesamentlike operasie is ’n voorbeeld van die krag en doeltreffendheid van wetstoepassing,” het Mdhluni ook gesê.
Daar was ook op ’n silwer BMW beslag gelê.
Die waarnemende provinsiale kommissaris van die SAPD in Mpumalanga, majoor-generaal (Dr.) Zeph Mkhwanazi, het die gesamentlike poging van eenhede wat by hierdie operasie betrokke was, geprys.
“Ons is verheug oor die samewerking wat deur lede van die span, afkomstig van verskeie SAPD-eenhede, getoon word.”
“Dit is belangrik is om misdaad met mening aan te pak, en dié operasie is ’n bewys van ons vasberadenheid om veiligheid in ons gemeenskappe te verbeter,” het Mkhwanazi afgesluit.
Volgens inligting het die sewe op aanklagte van kaping in die Delmas Landdroshof verskyn, maar teen druktyd kon geen verdere inligting verkry word nie.
Volgens Mdluli bestaan die moontlikheid dat meer aanklagte bygevoeg sou word namate die ondersoek vorder.



