Vermeende kaartbedrieërs op Delmas vasgetrek
'n Vrou het reeds die nuutste slagoffer geword van die beweerde bedrieërs en was sy van R3000 kontant beroof.
’n Verdagte Suzuki Swift, wat glo gekoppel word aan vorige voorvalle van kaartbedrog, was op 19 Julie in die middag, na ’n anonieme wenk van die publiek, op Delmas opgemerk.
Die voertuig is kort daarna gesien toe dit die Willowbrook Square-winkelsentrum binnery met die vermoede dat die insittendes niksvermoedende lede van die publiek wou bedrieg of besteel.
Die polisie was in kennis gestel en die gebied rondom die winkelsentrum afgesper.
Lede van AfriForum se Delmas Valke-buurtwag het die drie verdagtes gewaar toe hulle gepoog het om die sentrum in die betrokke Suzuki Swift te verlaat.
Teen daardie tyd het ’n vrou reeds die nuutste slagoffer geword van die beweerde bedrieërs en was sy van R3 000 besteel.
Al drie verdagtes was in hegtenis geneem en op die toneel deursoek. Die geld en onttrekkingsbewyse wat gekoppel is aan die klaer se bankrekening was in hulle besit gevind.
Volgens inligting was daar later bevestig dat die verdagtes die slagoffer se bankkaart gesteel en die geldDie polisie h uit haar Capitec Bank-rekening onttrek het.
Die polisie het beslag gelê op die geld en vier selfone en die Suzuki Swift. Dit is in die polisie se kamp 13 as bewysstukke ingeboek terwyl ’n saak van diefstal teen die drie verdagtes ondersoek word.
Tydens die operasie het ’n omstander wat die inhegtenisname gesien het, vorendag gekom en die verdagtes positief geïdentifiseer as dieselfde persone wat hom die vorige dag uit R1 500 bedrieg het.
Volgens verdere inligting is die verdagtes aan die polisie bekend vir soortgelyke bedrieglike aktiwiteite in die Crystal Park- en Ekurhuleni-gebiede.
Die verdagtes word by Delmas SAPD aangehou en sal na verwagting binnekort in die Delmas-landdroshof verskyn.




