Onnie van Witpoort pak die moordende Fauresmith-uithourit aan
Liezel Belsten het ook 'n leerder, Henco Pretorius, touwys gemaak.
Liezel Belsten het van 8 tot 10 Julie aan die ikoniese Fauresmith-uithourit deelgeneem — een van die mees uitdagende perdrybyeenkomste in Suid-Afrika.
Dié uithourit strek oor 205,3 km en word dikwels in uiterste temperature voltooi. Vanjaar is die rit vir die 50ste keer aangebied. Van die 283 ruiters wat weggespring het, het slegs 149 die rit voltooi.
Belsten was een van hulle, saam met haar perd, Steyl Mistiques Dora.
Belsten is ’n Graad Vier-onderwyseres by Laerskool Witpoort en al van kindsbeen af ’n passievolle perdeliefhebber. Sy het reeds op tienjarige ouderdom begin perdry.
“Ek en my sussie het aanvanklik begin ry omdat sy lae spiertonus gehad het,” vertel Belsten.

“My ma, Riana Belsten, sê altyd die tannie wat destyds my sussie gehelp het, het gesê ek is te klein om te ry. Maar as ek ’n perd gesien het, het ek probeer om by sy voorbene op te klouter!”
Vanjaar se rit was nie Belsten se eerste nie. Sy het reeds in 2013, op 11-jarige ouderdom, vir die eerste keer aan Fauresmith deelgeneem.
Daarna het haar belangstelling meer na skouspring, dressuur en skouverskynings verskuif, maar kort na skool het die uithouritgogga haar weer gebyt.
“Dis ook waar ek my verloofde, Jan-Louis Bezuidenhout, ontmoet het,” sê sy met ’n glimlag.
Volgens Belsten was vanjaar se rit besonder uitdagend.
“Die eerste oggend toe ons moes wegspring, was dit -8°C. Ek het vir myself gevra: Hoekom doen ek dit? Maar wanneer jy op die laaste dag klaarmaak, weet jy dit was die moeite werd. En dit was lekker!”

Sy beskryf die band wat tussen ruiter en perd gesmee word ná so ’n rit as “onbeskryflik spesiaal”. Belsten bedank vir Jan-Louis vir sy volgehoue ondersteuning, asook vir sy broer, Abri Bezuidenhout. Haar ma het spesiaal van Pretoria af na Fauresmith gery om Belsten by die eindpunt te verwelkom.
“Daar is só baie om voor dankie te sê,” sê sy. Hierdie gaan nie net oor drie dae se ry nie — dit verg ‘n hele jaar se opbou en voorbereiding.”
Belsten het vanjaar ook die tienjarige Henco Pretorius onder haar vlerk geneem.
“Henco het so twee jaar gelede by my begin perdry,” sê sy. “Hy het begin met een van my ouer ponies en het later sy eie perd gekry.”
Hy het die uithourit saam met Belsten aangepak, maar is ongelukkig by die 175 km-merk uitgeskakel.
“Vir sy ouderdom het Henco goed gevaar. Ek is ongelooflik trots op hom.”
Op die vraag of sy weer aan die rit sal deelneem, antwoord Belsten sonder twyfel: “Ja, enige tyd!”



