Cullinan en die Harlequins sien mekaar weer in die eindstryd
“Die finaal hou beloftes van ’n kragtige stryd tussen twee bekende vyande in.”
Die Cullinan Rugbyklub het op 9 Augustus teen die Westelikes te staan gekom vir ’n plek in die eindstryd van die Blou Bulle Rugbyunie-reserwebekerliga.
Cullinan het met die blaas van die eindfluitjie die Westelikes met 20-15 geklop. Hiermee het Cullinan vir hul ’n plek in die eindstryd verseker en sal teen die Harlequin Scaramouches te staan kom.
Cullinan se drieë tydens dié wedstryd is deur Willem Minny, Ruben Behrens en Jaco Grobler gedruk.
Reeds teen rustyd in die spannende wedstryd het ondersteuners hul passie en steun getoon deur braaivleisvure hoog te laat brand.
Johannes Bekker, raadslid vir Wyk 100, het dié opwindende wedstryd bygewoon.
“Karen Yssel en ander lojale ondersteuners het die span aangemoedig vir die tweede helfte,” het Bekker gesê.
Bekker het sy waardering uitgespreek teenoor die borge en ondersteuners wat hul toegewyde gesindheid aan die Cullinan Rugbyspan betoon het.
“Julle toewyding en onwankelbare ondersteuning maak ’n groot verskil vir die span. Dit is juis dié gemeenskapsgees wat ons sterker maak en ons help om vorentoe te beweeg. Die eindstryd hou beloftes van ’n kragtige stryd tussen twee bekende vyande in,” het Bekker bygevoeg.
“Cullinan is vasbeslote om die uitslag van verlede jaar se eindstryd reg te stel, terwyl Harlequins hul titel met trots wil verdedig.”
Afskoptye vir die groot wedstryd word binnekort aangekondig en albei spanne mobiliseer hul ondersteuners vir wat sekerlik die hoogtepunt van die seisoen gaan wees.





