CrimeLocal newsNewsStreeknuus

Streekhofsaak teen Eloff-vrou wat man glo doodry vir eers van die rol

Ooggetuies in die saak teen Samantha Gauche is soek.

Die vrou wat na bewering verlede jaar drie keer met haar motor oor ’n 50-jarige inwoner van Modderoos Boorde by Sundra gery het, is voorlopig op vrye voet.

Die saak teen Samantha Gauche is voorlopig van die Delmas Streekhofrol verwyder.

Monica Nyuswa, streekwoordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Mpumalanga, het bevestig dat die hof dié besluit geneem het toe Gauche op 2 September verskyn het.

“Die saak is van die hofrol verwyder omdat die getuies vir die derde keer nie vir die hofsaak opgedaag het nie. Die hof weier om die saak weer uit te stel en het dit eerder van die rol verwyder totdat die getuies opgespoor word,” het Nyuswa verduidelik.

Na verneem word, is die hoofgetuie ’n buitelander wat sedertdien landuit is en vermoedelik na sy land van herkoms teruggekeer het. Gauche word daarvan verdink dat sy omstreeks 14:00 op 30 September vir Leon Jansen van Rensburg op sy kleinhoewe doodgery het.


Samantha Gauche maak haar verksyning in die hof. Foto: Streeknuus argief

Jansen van Rensburg se dood het skokgolwe deur die klein gemeenskap van Delmas, Sundra en Eloff gestuur. Streeknuus het verlede jaar berig dat Gauche tydens van die voorval by die Jansen van Rensburg-egpaar, Leon en Hettie, gewoon het.

Die drie het glo die Saterdagmiddag onder die motorafdak gekuier. ‘n Stryery het na bewering ontstaan, waarna Gauche na haar motor gestorm het.

Leon wou keer dat Gauche ry, maar Gauche was skynbaar so vasbeslote om te ry dat sy na bewering bo-oor Leon gery het – nie net een keer nie, maar drie keer.

Sy het hierna van die toneel gevlug, maar slegs 1km verder het sy beheer oor haar motor verloor, teen ’n boomstomp langs die pad gebots en in ’n geploegde land tot stilstand gekom.


Leon en Hettie Jansen van Rensburg. foto: Verskaf

Gauche het toe glo te voet verder gehardloop.

’n Tuinier wat die gebeure dopgehou het, het alarm gemaak en twee ander werkers vanuit die omgewing het vir Gauche op ’n brug in haar spore gestop.

Die Sundra Polisie sowel as paramedici was ontbied. Leon is op die toneel dood verklaar. Gauche is by die ongelukstoneel in hegtenis geneem en van die moord op Leon aangekla.

Sy het vir die eerste keer op 2 Oktober op ’n aanklag van moord in die Delmas Landdroshof verskyn.

Gauche het sedert haar borgtog as vrywilliger by Ground Zero aangesluit. Dié toevlugsoord help dwelmverslaafdes hul verslawing oorkom en weer in die samelewing in te skakel.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Arisja Misselhorn

I have been a journalist for more than 30 years. I worked for Caxton and Beeld and also for my own publication. I returned to Ridge Times in 2018. I became editor for Ridge Times, Standerton Advertiser and Streeknuus in 2023. I completed numerous courses throughout the years, and I have won several awards.

Related Articles

Back to top button