Bekende troubeplanner van Trichardt benodig gemeenskap se hulp
Anton Rautenbach soek tweede opinie oor sy verlamming.
Om eens ’n Suid-Afrikaanse hoogspringatleet te wees en vandag, op die ouderdom van 48, aan ’n rolstoel vasgekluister te wees, is een te veel vir Anton Rautenbach.
Hy is in Maart vanjaar by Bethal Hospitaal met Guillain-Barré-sindroom gediagnoseer. Rautenbach, wat as troubeplanner in Trichardt werk, het vroeër vanjaar een oggend opgestaan en gevoel sy bene is lam.
Later het sy hele onderlyf lam geword en hy het ’n dokter by Bethal Hospitaal gaan sien omdat hy nie ’n mediese fonds het nie.
Dié dokter het vir hom bloedplasma gegee, en aanvanklik het hy daarna beter gevoel en gedink hy word weer gesond. Hy het egter later vanjaar van die verhoog afgeval en weer eens geen gevoel in sy bene gehad nie. Vandag sukkel hy so om te loop dat iemand vir hom ’n rolstoel geleen het.
“Ek sukkel om my werk te doen terwyl ek in ’n rolstoel sit. Ek is nie iemand wat stilsit en my personeel alles laat doen nie. Ek klim gewoonlik self op die leer om na kragkabels te kyk of liggies op te sit,” het Rautenbach vertel.
Die dokter by Bethal het ook fisioterapie drie keer per week aanbeveel en gesê dit sal help, maar Bethal Hospitaal kan hom slegs een keer ’n maand help.
“Ek weet nie eers of ek reg gediagnoseer is nie. Ek is bang dit word erger en dat ek die gebruik van my bene heeltemal gaan verloor,” het Rautenbach gesê.
By Bethal Hospitaal het mediese personeel vir hom gesê hulle gaan hom na Witbank Hospitaal stuur vir ’n MRI-skandering. Hy moes egter later hoor dat Witbank Hospitaal nie eers ’n MRI-masjien het nie.
“Ek sal graag ’n tweede opinie oor my toestand wil kry, want ek voel dalk is daar nog iets wat ’n ander dokter of hospitaal vir my kan doen.”

Rautenbach moes in 2013 ’n groot operasie ondergaan toe ’n kankergewas in sy kop verwyder is. Hy het toe bykans ’n honderd steke in sy kop gehad.
“Ek was nog altyd ’n positiewe mens, en daardie tyd was daar so baie mense wat vir my gebid het, dit het my deurgedra.”
Voor die Covid-19-pandemie die wêreld getref het, het Rautenbach ’n vooruitstrewende onderneming gehad wat troues in Sandton beplan het. Hy moes egter dié onderneming se deure sluit tydens die landswye grendeltyd in 2020.
Hy het, voordat sy onderneming moes sluit, verskeie bekendes se troues beplan, insluitend sanger en pastoor Heinz Winckler en Suid-Afrikaanse rugbyspeler Pierre Spies.
Rautenbach oorweeg nou om ’n Back-A-Buddy-rekening oop te maak om geld in te samel om eerder ’n privaat dokter te kan besoek vir ’n tweede opinie.
“Dit voel vir my nou of ek net sit en wag om heeltemal verlam te word.”
Enigiemand wat hom finansieël wil ondersteun of raad wil gee, kan hom by 062 664 1698 skakel.
LEES OOK: OnsWinkel op Standerton kry nuwe eienaar
LEES OOK: Evander Gold Mine‘s management team invest in the local youth



