Oogkundige van Standerton draai by dood om
Herman du Preez (45) is weer op die been ná lang stryd teen bakteriële infeksie.
Herman du Preez (45) het nou ’n nuwe uitkyk op die lewe ná ’n aggresiewe bakteriële infeksie byna sy lewe geëis het. Du Preez en sy gesin is al vir agt jaar deel van die Standerton-gemeenskap.
Hulle is oorspronklik van Secunda. Hy het op dié dorp grootgeword en het in 1998 aan Hoërskool Oosterland matrikuleer.
Du Preez het in 2002 sy graad in oogkunde aan die Universiteit van Johannesburg behaal. Volgens Du Preez, het hy tydens oefening ’n besering aan sy gluteus medius-spier in sy heup opgedoen.
“Ek het gedink dit was net ’n klein besering,” het Du Preez gesê.
’n Week later is Du Preez in die Zuid-Afrikaans Hospitaal in Pretoria met sepsis opgeneem. Dié infeksie het deur sy liggaam versprei, en sy hart en longe aangeval.
“My regterlong het platgeval. Daar was baie vog op my longe, wat met twee afsonderlike operasies gedreineer moes word,” het Du Preez verduidelik.
Absesse moes ook chirurgies verwyder word. Du Preez se familie was ook in dié donker tyd geraak. Sy ouers het daagliks van Naboomspruit af gery om in besoektye by hom te wees.
Sy skoonouers het weer die kinders met hul leerwerk in eksamentyd gehelp en om die kleingoed soggens gereed vir skool te kry.
Du Preez se tweeling was nie in die hospitaal se waakeenheid toegelaat nie, en kon dus vir weke lank nie hul pa besoek nie.
Volgens Du Preez, was dit ’n lang proses om die oorsaak van die infeksie te bepaal en met medisyne te beveg. Hy was vir drie weke in die hart- en long-afdeling van die intensiewe sorgeenheid voor hy ontslaan is.
“Ná ’n week by die huis het die infeksie weer teruggekom en ek is vir nog ‘n week in die hospitaal opgeneem,” het Du Preez vertel.
Dit was gebede en die positiwiteit van Du Preez se vrou, Suyen, wat hom deurgedra het.
“Wat ’n ystervrou,” het hy beklemtoon.
Volgens Du Preez het Suyen in die tyd wat hy in die hospitaal was, nie net hul groot huishouding bestuur nie, maar het ook by die praktyk ingespring om pasiënte se oë te toet. Sy het ook heen en weer gery vir hospitaalbesoeke.
Du Preez is ook dankbaar vir die gemeenskap se ondersteuning wat, volgens hom, ’n groot rol in sy herstel gespeel het.
“’n Klein WhatsApp-groepie van 20 mense het gegroei het na baie lede wat daagliks op hoogte gehou moes word.”
Du Preez is nou terug en volgens hom is sy gesondheid nou 100%. In dié tyd van siekwees, het Du Preez besef hoe kwesbaar ’n mens werklik is en hoe vinnig jou lewe kan verander.
“Ek het besef dat familie ontsettend belangrik is en dat tyd met my gesin die belangrikste kommoditeit is,” het Du Preez gesê.
Hy sien uit om weer te begin oefen, betrokke te wees by sy kinders se buitemuurse aktiwiteite en om net weer aktief in die gemeenskap te wees. Dié infeksie het hom beslis nie ondergekry nie en hy sal aanhou met dit waarvoor hy lief is, soos oefen, sport en natuurlik oogkunde.
LEES OOK: Lekwa Speaker’s wardrobe offends FF Plus
LEES OOK: Rescued youth graduates from rehab after illegal disciplinary camp ordeal near Evander



