Fotografieklub op Secunda skop jaar af met uithaler-foto’s
Belangstellendes is welkom om vanaand (6 Februarie) die volgende byeenkoms by te woon.
Die Hoëveld Fotografieklub het vanjaar afgeskop met hul eerste byeenkoms op 16 Januarie. Johan Drotsky van die Bethal Fotografieklub was die beoordelaar.
Die voorgeskrewe onderwerp vir Januarie was ‘Vakansie’ en Danie Smit se foto, Wave Backflip, het hom die wenner in dié afdeling gemaak.
Hy het ook ’n sertifikaat van meriete hiervoor ontvang, asook vir Alpenglow in die landskapafdeling.
Dr Leon Pelser se Garlic Display was die beste in die tweekleurige foto-afdeling onder die senior fotograwe en hy het ook ’n sertifikaat van meriete hiervoor ontvang.
Edmund Hattingh se foto, Aandete in die natuurvoëlsafdeling, was die beste onder die junior fotograwe. Hy het ook ’n sertifikaat van meriete vir dié foto, asook vir Bloukopkoggelmander, in die natuurafdeling, ontvang.

Yolandi Geyser het behoorlik uitgeblink. Sy het sertifikate van meriete vir haar In Quiet Reflection en Silent Ascent, beide in die tweekleurige foto-afdeling gekry, asook vir Quiet Watcher in die natuurafdeling, Layers of Memories in die pikturale afdeling en A Toast to the Season in die voorgeskrewe onderwerpafdeling.
Die ander fotograwe wat goed gevaar het en sertifikate van meriete vir hul foto’s ontvang het, is Stian Griffin vir Verweer maar nie Vergete in die tweekleurige foto-afdeling, The Vintage Model in die pikturale afdeling en Stiltes van die Karoo in die voorgeskrewe onderwerpafdeling; Hanlie de Beer vir Saint Salvador Cathedral Altar in die landskapafdeling en Painted Lady Up Close in die natuurafdeling; Lorraine Botha vir Queen in die pikturale afdeling en Dog and Three-Year-Old in die voorgeskrewe onderwerpafdeling; Louis van der Walt vir Inkunzu Cave Star Trails 1, ook in die landskapafdeling en Sussa Pelser vir Road to Where in Canola Fields in die landskapafdeling.
Die Hoëveld Fotografieklub hou hul volgende byeenkoms op 6 Februarie om 18:00 in die Scrum Inn by die Sasol Ontspanningsklub.
Belangstellendes is welkom om dié byeenkoms by te woon. Vir meer inligting, skakel Louis van der Walt by 072 755 2767.













