Delmas munisipale werker en vriendin met ongelisensieerde vuurwapen betrap
Die polisie was glo geskok om uit te vind dat die een van die verdagtes boonop ’n werknemer van die munisipaliteit op Delmas is.
’n Werker van die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit en sy meisie is in Botleng, Delmas vasgetrek nadat hulle in besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen betrap is
Die inhegtenisname het gevolg ná ’n lid van die publiek alarm gemaak het oor ’n ongelisensieerde vuurwapen wat na bewering in Botleng rondgeswaai is.
’n Span polisielede van die Nkgangala-distrik het in die vroeë oggendure van Sondag, 7 Augustus op die klag gereageer.
Inligting het die polisie na ’n woning in Botleng gestuur.
Die huis is deursoek en die polisie het beslag gelê op ’n Pitro 9mm Beretta-pistool en ses koeëls.
Volgens inligting, was die pistool glo onder ’n matras in die woning versteek.
Die twee verdagtes is in hegtenis geneem op ’n aanklag van die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.
’n Voorlopige ondersoek dui daarop dat die vuurwapen in Junie tydens ’n kaping van ’n vragmotor met sojabone in Marble Hall gesteel was.
Die vragmotor is later teruggevind, maar ’n vuurwapen was skoonveld.
Volgens ’n mediaverklaring op Sondag, 7 Augustus, is die vuurwapen wat in Botleng teruggevind is, dieselfde vuurwapen wat in Marble Hall gesteel is.
Die polisie was glo geskok om uit te vind dat die een van die verdagtes boonop ’n werknemer van die munisipaliteit op Delmas is.
Die provinsiale kommissaris van polisie in Mpumalanga, luit.-gen. Semakaleng Daphney Manamela, het die lid van die publiek wat met die inligting oor die vuurwapen en ammunisie vorendag gekom het, geloof.
“Ons waardeer die bydrae wat deur goeie burgers gemaak word, hulle wat saam met die polisie werk om die land ’n veiliger woonplek vir almal te maak.”




