Vermeende reeksmoordenaar van vier vasgetrek na liggaam op Sundra gevind is
Haar aanvaller het vermoedelik geglo dat sy reeds dood was toe hy haar in die vlak graf in Sundra agtergelaat het. Hy het hierna in die slagoffer se Mercedes Benz op die vlug geslaan.
Die byna lewelose liggaam van ’n 26-jarige vrou is op 7 Augustus in ’n vlak graf op Sundra gevind.
’n Werknemer van Rossgro het glo op die toneel afgekom en dit by die polisie op Sundra aangemeld.
Christel Nkosi was skynbaar vir dood agtergelaat.
Sy is na die Bernice Samuel Hospitaal op Delmas gehaas, maar is op Maandag, 8 Augustus dood.
Voor Nkosi se dood, kon sy glo egter inligting oor haar aanvaller verskaf.
Sy het haar aanvaller op Faceboek ontmoet en sy kon hom ook op sosiale media uitwys.

Hul eerste ontmoeting in persoon was glo op Saterdag, 6 Augustus in Benoni.
Die afspraak het egter vinnig skeefgeloop toe die verdagte haar glo met ’n vuurwapen gedreig en gewurg het.
Haar aanvaller het vermoedelik geglo dat sy reeds dood is toe hy haar in die vlak graf op Sundra agtergelos het.
Hy het hierna in die slagoffer se Mercedes Benz gevlug.
Die ondersoekbeampte in die moord van Nkosi, adj.-off. Eddie Rapakgadi van die Sundra Polisie, het leidrade opgevolg en met behulp van ’n provinsiale taakspan is die verdagte, Hlabirwa Rassie Nkune (36), in
KwaThema naby Springs in hegtenis geneem.
Volgens brig. Selvy Mohlala, provinsiale polisiewoordvoerder, was Nkune ook in besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen waarvan die reeksnommer afgevyl is.
Nkune het op Maandag, 15 Augustus vlugtig in die Delmas Streekhof verskyn.
Hy het verkies om nie om borg aansoek te doen nie.

Die polisie vermoed Nkune is ’n reeksmoordenaar wat al minstens vier mense vermoor het.
Hy is op dieselfde dag ook vir die moord op twee susters in hegtenis geneem.
Sers. Marcia Mazibuko (43) van die Ngodwana Polisie en haar suster Pretty Mazibuko (42) is op Woensdag, 15 Junie doodgeskiet.
Volgens beriggewing, het Nkune en Pretty op die dag van die moord in die Kanyamazane-nedersetting ’n argument gehad waarna Pretty in ’n blou BMW 1-reeks gevlug het.
Sy is glo deur Nkune gevolg.
Hy het na bewering losgebrand en ’n paar keer op haar geskiet.
Nkune het hierna na die woning teruggekeer waar hy glo vir sers. Mazibuko geskiet en toe gevlug het.
Nkune is ná sy verskyning in die Delmas Streekhof, na Nelspruit geneem waar hy op die moord van die twee susters aangekla is.
Hy het op Dinsdag, 16 Augustus in die hof op Kanyamazane verskyn.
Hy bly in aanhouding en die saak is tot Dinsdag, 6 September uitgestel vir verdere ondersoek.
Nkune word intussen ook verbind met die moord op Hillary Gardee (28), dogter van die voormalige sekretaris-generaal van die EFF, Godrich Gardee.
Hillary is op Vrydag, 29 April in Mbombela ontvoer.

Haar liggaam is op 3 Mei in die bosse aan Sabie/Lydenburg-pad gevind.
Die provinsiale hoof van die Valke, maj.-gen. Zodwa Mokoena, het intussen die inhegtenisname van die beweerde voortvlugtende moordenaar verwelkom.
“Ek waardeer die samewerking van die span, bygestaan deur lojale burgers, in die bekamping van die vlaag van misdaad.”
Kapt. Linky Olckers, bevelvoerder van die Sundra Polisie het ook haar waardering teenoor adj.-off. Eddie Rapakgadi vir sy aandeel tot die positiewe inhegtenisname van die vermeende reeksmoordenaar uitgespreek.
Sy het vroue gemaan om bedag te wees vir sosiale media.
“Bly weg van vreemdelinge met gunstige aanlyn-profiele.”



