Die beendere van nóg ’n onbekende slagoffer buite Delmas gevind
Volgens ’n mediaverklaring deur brig. Selvy Mohlala, blyk dit uit ’n voorlopige ondersoek dat die liggaam daar afgelaai is en daarna aan die brand gesteek is.
Die beendere van ’n onbekende slagoffer is by ’n boom op die plaas Hekpoort teenaan die R42-pad net buite Delmas gevind.
Volgens inligting, het ’n man wat met sy honde wild gejag het, op Donderdag, 1 September dié gru-ontdekking gemaak.
Die polisie is omstreeks 15:30 in kennis gestel.
Met die polisie se aankoms op die toneel, is dit bevestig dat die oorskot wel van menslike oorsprong is.

Volgens ’n mediaverklaring deur brig. Selvy Mohlala, blyk dit uit ’n voorlopige ondersoek dat die liggaam daar afgelaai is en daarna aan die brand gesteek is.
Tydens Streeknuus se besoek aan die toneel, was dit duidelik dat slegs ’n kol van die kort gras rondom die oorskot gebrand het en is alle aanduidings dat die liggaam wel daar aan die brand gesteek is.
Vanaf die boom waaronder die oorskot gevind is, het ’n tou gehang.
Die polisie het egter bevind dat dit na alle waarskynlikheid nie met die persoon se dood verband hou nie.
Die polisie ondersoek tans die omstandighede rondom die onbekende persoon se dood.
Teen druktyd kon die identiteit of geslag van die persoon nog nie vasgestel word nie.

Hangende die uitkoms van ’n nadoodse ondersoek, kan ’n saak van moord geopen word.
Volgens kapt. Carla Hartley, mediawoordvoerder vir die Delmas Polisie is ’n selfoon ook op die toneel gevind en sou spesialiste poog om inligting daarop te verkry.
Die ontdekking volg skaars ’n maand nadat ’n man wat brandhout opgetel, het op Donderdag, 28 Julie, menslike beendere ontdek het.
Die twee tonele is etlike meters van mekaar verwyder.
Tydens die eerste geval is twee gaatjies, moontlik te wyte aan skietwonde, in die skedel van die persoon gevind.
Die ondersoek na die omstandighede rondom albei die menslike oorskot duur voort.
Intussen het die polisie op Delmas ’n beroep gedoen op die publiek om vorendag te kom, sou hulle oor enige inligting beskik wat die polisie in hul ondersoek kan help om die Stop Misdaad-nommer op 08600 10111 te skakel.
Inligting kan ook via die MySAPSapp gestuur word.
Alle inligting sal as vertroulik hanteer word.




