CrimeStreeknuus

Sundra-inwoner ontkom ’n gewisse koeëldood op die N12

Groot was die skok toe sy twee koeëlgate aan die bestuurderskant van die bakkie gewaar.

Sy het twee dowwe plofgeluide gehoor, maar het net aanhou ry, wetende dat sy moontlik ’n kapingslagoffer kon wees.

Dít is dalk juis wat Marzanne Cromhout, ’n werknemer van Rossgro op Delmas en inwoner van Sundra, se lewe gered het.

Cromhout was op Woensdag, 31 Augustus omstreeks 19:20 van die werk op pad huis toe.

Volgens Cromhout, ry sy normaalweg nie saans nie, maar soms gebeur dit so dat sy wel laat moet werk.

Marzanne Cromhout wys hier na die koeëlgate wat haar bakkie vermoedelik tydens ’n kapingspoging getref het.

“Ek ry ook nie saans met die N12 huis toe nie. Ek het ingedagte op die N12 beland en het toe maar voortgery,” het Cromhout gesê.

“Kort voor ek die Sundra-afrit moes neem, het ek twee dowwe plofgeluide gehoor en het instinktief net aanhou ry,” het Cromhout gesê.

Volgens Cromhout het haar oorlede pa, luit.-kol. Moeks Cromhout, die legendariese gewese bevelvoerder van die destydse Delmas Kommando, se woorde by haar opgekom.

“My pa het altyd gesê dat ek nooit in potensiaal gevaarlike omstandighede moet stop nie, maar eerder moet aanhou ry tot by ’n veilige hawe.”

By die huis aangekom, het Cromhout uit haar Toyota-bakkie geklim en om haar voertuig geloop om seker te maak dat alles wel is.

“Ek het toe nog vermoed dat ek dalk oor iets in die pad gery het, hoewel die gedagte van ’n moontlike kapingspoging by my gespook het.”

Groot was die skok toe sy twee reuse koeëlgate aan die bestuurderskant van die bakkie gewaar het.

Die koeël wat uit die wand van Marzanne Cromhout se bakkie se band verwyder is.

Cromhout het onmiddellik met die Sundra Bulldogs Buurtwag in aanraking gekom.

Buurtwaglede het haar na die Sundra Polisie vergesel.

Skok rondom die gebeure het teen daardie tyd ingeskop en daar is besluit om die aflê van die verklaring tot die volgende oggend uit te stel.

Nog ’n groter skok het op Cromhout gewag toe sy ’n koeël op die bestuurdersitplek, waar sy kort vantevore nog gesit het, gewaar het.

Die volgende oggend het Cromhout opgemerk dat die linkervoorband van haar bakkie pap was.

Sy het hulp ontbied en die spaarwiel is opgesit.

Streeknuus het Cromhout op Donderdag, 1 September by die Sundra Polisiestasie ontmoet waar sy die koeëlgate aan die bestuurderskant van haar Toyota-bakkie, sowel as die koeël op die sitplek uitgewys het.

Volgens die bevelvoerder van die Sundra Polisie, kapt. Linky Olckers, vermoed die polisie dat dit ’n kapingspoging was.

“Sommige nabygeleë inwoners het genoem dat hulle tot sewe skote ten tye van die voorval gehoor het.”

Volgens inligting, is daar egter soveel as 12 skote in Cromhout se rigting gevuur, waarvan vier haar bakkie getref het.

Die projeksie van die koeëlgate dui glo ook verder daarop dat die vermeende kaper of kapers moontlik vanaf die eiland tussen die bane op die N12-snelweg kon gelê het vanwaar daar op Cromhout geskiet is.

Tydens die versekering se inspeksie van die bakkie is ’n verdere koeëlgat deur die buffer van die voertuig gevind. Die regter-voorwiel is ook skrams geraak.

“By nadere ondersoek is ’n koeël in die wand van die band gevind.

“Net met God se genade het my bakkie se band nie dadelik pap geraak nie.”

Die koeël nog duidelik sigbaar in die band van kapingslagoffer, Marzanne Cromhout.

Cromhout het die Sundra Bulldogs Buurtwag en hul leier, Derek Bester, vir hul bystand bedank.

“Hulle is net altyd daar vir mense in nood en wanneer jy op hulle knoppie druk is hulle spoedig byderhand en staan met raad en daad by.”

Cromhout het ook haar werkgewer en kollegas, haar Rossgro-familie, vir hulle liefde en bystand tydens haar traumatiese ondervinding bedank.

“Ek was baie gelukkig.

“Die besluit, met my oorlede pa se woorde in my kop om net aan te hou ry, het heel waarskynlik my lewe gered.

“Ek dank die Here dat ek vandag leef.

“Met nabetragting het ek besef dat dit so anders kon gewees het.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button