Gawie Marx oorlede na gewelddadige aanval op Morgenzon
Kasselman Veiligheidsdienste (KVD) het intussen ’n beloning van R20 000 uitgeloof vir enige inligting wat sal lei tot die inhegtenisname van die verdagtes.
Gawie Marx van Morgenzon het vermoedelik aan sy wonde op 26 Maart beswyk na ’n aanval op hom en sy vrou, Mary-Anne.
Die Marxe het vanaf Ermelo die vorige dag teen 19:00 na hul huis teruggekeer, waar vier verdagtes hulle ingewag het.
Die diefwering by die huis het tekens van die betreding getoon en hul huis, vulstasie en werkswinkel is naby mekaar.
Albei is met kabels vasgebind en volgens Jandré Kasselman, is Gawie gemartel.
LEES OOK: Cullinan once again a tourist attraction
Mary-Anne het uiteindelik tussen middernag en 01:00 daarin geslaag om haar los te maak en gehardloop om hulp by die petroljoggie by die vulstasie te gaan soek.
Die paniekknoppie is in die vroeë oggendure na Kasselman Veiligheidsdienste (KVD) gedruk. Die egpaar is beroof van kontant en juweliersware, asook ’n pistool.
Die verdagtes het op die vlug geslaan en is steeds op vrye voet.
KVD het intussen ’n beloning van R20 000 uitgeloof vir enige inligting wat sal lei tot die inhegtenisname van die verdagtes.
“Ons werk nou saam met die ondersoekbeampte,” het Jandré Kasselman gesê..
“Dit was vir ons almal ’n groot skok,” het Corné van Dijk, ’n sakeman op die dorp, gesê.
“Oom Gawie was ’n geliefde lid van ons gemeenskap. Daar was byna nog nooit ernstige geweldsmisdaad op Morgenzon nie.”
Van Dijk het afgesluit deur te sê dat hierdie onsinnige moord ’n groot impak op hul klein gemeenskap sal hê.
Die begrafnisdiens het op 4 April om 11:00 in die NG Kerk op Morgenzon plaasgevind.



