Eloff-vrou verskyn weer in hof na sy glo drie keer oor man ry
Volgens 'n betroubare bron, het Samantha Gauche nog saam met die Jansen van Rensburg-egpaar gekuier kort voordat hy wou keer dat sy in haar motor wegry.
Samantha Gauche (35), inwoner van Modderoos Boorde in die Delmas-omgewing wat van moord aangekla word nadat sy na bewering drie keer oor Leon Jansen van Rensburg (50) gery het, het op 9 Oktober weer vlugtig in die Delmas Streekhof verskyn.
Gauche het op 2 Oktober in die hof verskyn, maar die ondersoekbeampte kon nie daarin slaag om die gegewe adres vir Gauche te bevestig nie.
Die saak is tot 12 Oktober uitgestel wanneer ’n formele borgaansoek voor die hof gebring sal word.
Gauche bly intussen in polisie-aanhouding.
Jansen van Rensburg se dogter Shenique, vriende en Jansen van Rensburg se ouer broer en skoonsuster het die hofverrigtinge bygewoon.
Gauche het na bewering op 30 September drie keer oor Jansen van Rensburg gery waarna sy in haar wit Chevrolet Aveo van die toneel (Jansen van Rensburg se kleinhoewe op Modderoos Boorde) gevlug het. Sy het na bewering teen ’n boomstomp gebots, uit haar motor gespring en verder te voet gevlug.
’n Tuinier wat die gebeure gesien gebeur het, het alarm gemaak en Gauche is deur nabye werkers in haar voetspore gestuit. Sy is kort daarna deur die Sundra Polisie in hegtenis geneem.
Volgens ’n betroubare bron, het Gauche en die Jansen van Rensburg-egpaar gekuier, maar ‘n stryery het ontstaan.
Jansen van Rensburg wou keer dat Gauche ry waarna sy dan drie keer oor hom gery het.
Jansen van Rensburg is deur paramediese personeel op die toneel dood verklaar.
Lees meer in Streeknuus van 13 Oktober.




