Burgeregte-organisasie verwelkom Govan Mbeki Munisipaliteit se besluit
GMM ondersoek alternatiewe maniere van elektrisiteitsverspreiding.

AfriForum verwelkom die Govan Mbeki Munisipaliteit se aankondiging om die toekoms van elektrisiteitsverspreiding in dié munisipale gebied te ondersoek.
Volgens Deidré Steffens, AfriForum se raadgewer vir plaaslike regeringsake, stel die artikel 78-proses ingevolge die Wet op Plaaslike Regering ’n munisipaliteit in staat om alternatiewe diensleweringsmeganismes te oorweeg om te bepaal of ’n diens meer kostedoeltreffend, volhoubaar en doeltreffend deur ’n eksterne diensverskaffer gelewer kan word.
“In dié geval fokus die proses op die verspreiding van elektrisiteit,” het Steffens gesê.
Volgens haar is AfriForum van mening dat dié stap een in die regte rigting is nadat inwoners van die Govan Mbeki-munisipale gebied vir jare onder swak dienslewering, toenemende finansiële wanbestuur en ’n vervalle elektrisiteitsnetwerk gebuk gegaan het.
Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, meen die munisipaliteit se finansiële en operasionele prestasie toon duidelik dat die huidige model nie volhoubaar is nie.
“Dit is daarom noodsaaklik dat alle moontlike alternatiewe ondersoek word om betroubare elektrisiteitsvoorsiening aan inwoners te verseker,” het Bekker gesê.
“Die omvang van die munisipaliteit se probleme is duidelik uit sy eie finansiële state. Dié munisipaliteit se skuld aan Eskom beloop tans sowat R6.58 miljard.
“Daarbenewens toon die munisipaliteit se geouditeerde jaarverslag vir 2024/25 dat 255 067 057 kWh elektrisiteit gedurende die boekjaar verlore gegaan het – gelykstaande aan 47,98% van alle elektrisiteit wat aangekoop is.
“Hierdie buitengewone hoë verliese plaas verdere druk op die munisipaliteit se finansies en ondermyn volhoubare dienslewering.
“Die munisipaliteit het ook deelgeneem aan die Nasionale Tesourie se munisipale skuldverligtingsprogram, maar is uit die program verwyder nadat hy versuim het om sy lopende Eskom-rekeninge betyds en volledig te betaal.
“Vroeër vanjaar het Eskom die munisipaliteit verder gewaarsku dat hy sy elektrisiteitstoevoer kan beperk of onderbreek indien die munisipaliteit nie sy uitstaande skuld betaal en ’n verspreidingsagentskapsooreenkoms (Distribution Agency Agreement – DAA) met Eskom aangaan nie.”
Steffens het gesê AfriForum het vroeër vanjaar gewaarsku dat Eskom se gebruik om munisipaliteite te dwing om verspreidingsagentskapsooreenkomste te teken, teenstrydig is met die artikel 78-proses van die Wet op Munisipale Stelsels.
“Eskom se boeliegedrag sluit openbare deelname totaal uit en maak ’n proses wat oop en objektief moet wees, geslote, sonder enige inspraak van die publiek,” het Steffens gesê.
“Die artikel 78-proses verseker dat alle diensleweringsopsies objektief beoordeel word, dat die publiek geraadpleeg word en dat enige besluit in ooreenstemming met die wet geneem word,” het Steffens afgesluit.
Bekker reken inwoners verdien ’n elektrisiteitsdiens wat doeltreffend bestuur word, finansieel volhoubaar is en waarop hulle kan staatmaak.
“Indien ’n alternatiewe diensleweringsmodel daartoe kan bydra om dienslewering te verbeter, moet dit ernstig en sonder politieke inmenging oorweeg word.
“Wat egter bo alle twyfel moet staan, is dat enige besluit volgens die voorskrifte van die wet geneem moet word en nie onder dwang nie,” het Bekker afgesluit.



