Local news

Rozanne van Deventer van Standerton begrawe geen talent onder ’n maatemmer nie

Haar ouers woon al 32 jaar op Standerton en sy is ’n oud-leerder van Laerskool Standerton en Hoërskool Standerton, maar haar hegte familiebande was die trekpleister om naby hulle te wees.

Die veelsydige, diplomatiese Rozanne van Deventer van Standerton het ’n lewe gepak met uiteenlopende belangstellings en avonture.

Benewens haar dagtaak by Cofco International in ’n finansiële beheerhoedanigheid, is sy geen groentjie as dit by diepseehengel en jag kom nie.

Rozanne se gewone dag begin deur in te skakel vir ’n spirituele boodskap alvorens sy moue oprol vir wat wag.

Die Noordwes-Universiteit op Potchefstroom is haar alma mater en waar sy ’n honneursgraad in bestuursrekenkunde verwerf het.

Na afloop van vier jaar, het sy vir drie jaar in Pretoria haar klerkskap in oudit voltooi, alvorens sy in 2016 na Standerton teruggekeer en by ’n ouditeursfirma ingeskakel het.

Die korporatiewe wêreld het egter gewink en sy het ’n aanstelling by Cofco gekry en is drie jaar later bevorder.

Dié maatskappy se hoofkantoor is in Switserland en die groepmaatskappy in Sjina.

Hulle het met verskeie kulture te doen.

Haar ouers woon al 32 jaar op Standerton en sy is ’n oud-leerder van Laerskool Standerton en Hoërskool Standerton, maar haar hegte familiebande was die trekpleister om naby hulle te wees.

“Ek het onlangs peetma geword van my sus, Anneke en haar man, Willem se seuntjie,” het sy ook gesê.

“Dit was ’n wonderlike oomblik toe hulle my gevra het.”

Sportgewys het sy haar liefde vir hengel by haar pa, Ben van Deventer geleer en spog met haar eie jetski.

“Ek het langs die viswater grootgeword en ken vir Grootdraaidam.”

Die grootste snoek is in 2018 in Mosambiek tydens die OCFD Jetski Species-kompetisie gevang en sy was ’n prys ryker.

Haar oom, Benna Groenewald en die nefies het die liefde vir diepseehengel aangewakker.

“Kan ’n mens ooit genoeg visstokke hê?” het sy vol van die lag gevra.

Verskillende spesies is al op die boot, Groenies inkatrol en weer teruggegooi, waaronder ’n swart marlyn en moenie vergeet van die ‘great barracuda’ en seilvis nie.

Dié seilvis wat by Durban Couta Classic gevang is, het die skaaltabel behoorlik laat kreun.

Rozanne is planmatig en ’n MBA word in die vooruitsig vir volgende jaar gestel.

“Dis belangrik om nooit op te hou leer en lees nie, daarom lees ek graag op elke vlugrit af Kaap toe.

“Ek wil ook nog saam met my nefies, dalk in volgende jaar se jagseisoen, ’n koedoebul plattrek.”

Sy het internasionaal gereis na Switserland, Duitsland, Oostenryk en Frankryk en veral die Switserse Alpe, wat vanaf Lauterbrunnen se watervalle gesien is, het ’n diep indruk op haar gemaak.

O ja, sy kan ski.

“Die praktyk in ’n pynlik, netjiese Switserland om vlae te swaai, was asemrowend.

“Die mense daar sal ’n yskas met kos op die hoek van die straat staanmaak, en burgers sal geld in ’n boks inbetaal vir wat hulle uit die yskas vat.”

Sy slaan respek vir ’n ander se tyd hoog aan en glo die lewe wentel om geloof.

Haar betrokkenheid by die Lekwa Ratepayers Association en Vaal Business Forum is tekenend van haar bekwaamhede.

Haar liefde vir die gemeenskap strek ook verder deur gemeenskapdiens en ontwikkeling.

“Ek wil graag weer uitreikprogramme bywoon en na my uitreik in Swaziland in 2019, het ek gesien ons kan soveel meer wees as die slegte dinge wat met ons gebeur.”

Rozanne het Amanda le Roux, Celia Goosen, Petra Fischer, haar ma, Yvonne van Deventer en tante, Antoinette Groenewald uitgesonder wat haar lewensreis meemaak.

“Hulle is vyf, sterk mentors wat my help,” het sy mee afgesluit.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button