Laerskool Witpoort wys Oes-kompetisiewenners aan
Vanjaar se kompetisie het ’n nuwe kategorie ingesluit naamlik sojabone en verdeelde areas tussen Bronkhorstspruit en Bapsfontein / Delmas.
Laerskool Witpoort se Oes-kompetisie is reeds in sy tweede jaar en gaan van krag tot krag.
Die wenners van die gesogte kompetisie is tydens ’n spog-geleentheid op Vrydag, 29 Julie aangewys en het by Monte de Dios in Pretoria plaasgevind.
Vanjaar se kompetisie het ’n nuwe kategorie ingesluit, naamlik sojabone en verdeelde gebiede tussen Bronkhorstspruit en Bapsfontein/Delmas. Die Oes-kompetisie behels die opbrengs van een hektaar sojas of mielies as inskrywing.
“Boere wat aan die kompetisie deelneem, staan ’n kans om R50 000, R40 000 of R30 000 onderskeidelik vir die eerste drie plekke te wen. Wenners word bepaal deur die hoogste opbrengs per hektaar,” het
Bernice van Staden van bemarking en projekte by Laerskool Witpoort, verduidelik.
Vanjaar se kompetisie was weer ’n reuse sukses en die wenners is soos volg:
In die kategorie: Bronkhorstspruit Mielies, was Emje Ferreira derde met ’n tonnemaat van 8.4 ton per hektaar, in die tweede plek Tiny Olivier met ’n tonnemaat van 8.8 ton per hektaar en Hardus Prinsloo het die eerste plek behaal met ’n tonnemaat van 12.4 ton per hektaar.
In die kategorie, Bronkhorstspruit Sojas was PN Basson tweede met ’n tonnemaat van 4.5 ton per hektaar en in die eerste plek Hendrik Smit ook met ’n tonnemaat van 4.7 ton per hektaar.
Bapsfontein/Delmas sojas se kategorie is deur Herman van Zyl met 2.7 ton per hektaar gewen.
In die Bapsfontein/Delmas se mielies-kategorie het Herman van Zyl met 11.6 ton per hektaar met die tweede plek weggestap, terwyl Lieb Grabie met 12.6 ton per hektaar in die eerste plek geëindig het.
Die Witpoort Oes-kompetisie skop weer op Woensdag, 24 Augustus vir die nuwe seisoen af. Boere wat wil deelneem, word aangemoedig om Bernice van Staden by bemarking@witpoort.co.za, te kontak.
“Baie dankie aan Afgri Delmas, Dekalb/Bayer, Impac Cropsure, Agri TV en MBFi, ons borge wat tot die sukses van ons Oes-kompetisie bygedra het,” het Van Staden afgesluit.











