Vivian Seager is nuwe bestuurder by Standerton Buiteklub
Vivian is van voorneme om sy hand te waag aan ’n paar nuwe gholfkompetisies waarmee hy vertroud is.
’n Man van KwaZulu-Natal, Vivian Seager, is in beheer van die dag-tot-dag sake by die Standerton Buiteklub.
Dié enkelpa het saam met sy dogter, Cheira, sowel as sy moeder, reeds in September verlede jaar na Standerton verhuis en hul intrek in ’n meenthuiskompleks op die dorp geneem.
Sy ander dogter Tamika, het onlangs by hulle aangesluit.
“’n Oom van my van Newcastle het in 1984 aan gimkana op Standerton deelgeneem,” het Vivian gesê.
“Die dorp lyk nou aansienlik anders.”
Die betrekking by die klub het eintlik in sy skoot geval nadat hy op Facebook die vakature raakgelees, ’n eposnavraag gedoen en sy cv aangestuur het.
Vivian het voorheen by ENB gewerk en daarna in bestuurshoedanigheid by ’n kleinhandelwinkelgroep.
Gholf is nie vir hom vreemd nie, om die waarheid te sê, dié sport is vroeër aktief beoefen voordat hy op rolbal besluit het.
Sport is sy kos en Hoërskool Voortrekker in Pietermaritzbug was waar hy rugby, tennis en krieket gespeel het.
Hy sal nie enigsins neus optrek vir die besigheidsliga van rolbal nie.
Die hengelwater by Grootdraaidam bied die gulde geleentheid vir hom en sy kinders om uit te span.
“As ons iets vang, is dit goed en as ons nie iets vang nie, is dit ook goed.
“Dit is lekker om saam met my mense uit te kom.”
Ladysmith en Estcourt tel ook onder die dorpe waar hy gewoon het, en die skuif na die Hoëveld het merendeels daaroor gegaan om meer tyd saam met sy jongste, Cheira deur te bring.
Die dodelike ure in die kleinhandelbedryf het hom laat bontstaan om ook oor haar huiswerk ’n ogie te hou.
Nou doen sy dit in een van die vertrekke by die klub en Tamika, reeds ’n jaar uit die skool, sit hand in die kombuis by.
Vivian is in sy element in die kombuis en hou veral daarvan om kos op die vuur gaar te maak.
Braai word daar gebraai van Vrydag tot Sondag by die Seagars.
Vivian se kinders het Engels grootgeword, maar hy is ’n Afrikaner in murg en been, praat wel Engels vlot en Zoeloe is sy derde taal.
Hy het in die klubkombuis ingevaar, die spyskaart opgedollie en sorg dat die musiek begin speel as hy om 08:00 instap.
Kurt Darren, Theuns Jordaan en Nádine is die Afrikaanse sangers waarby hy aanklank vind en ook die sokkie-sokkie-sangers.
Vivian is van voorneme om sy hand te waag aan ’n paar nuwe gholfkompetisies waarmee hy vertroud is.
“Dit behoort veral die nie-gholfers en mense wat nie so gereeld opdaag nie, te betrek,” het hy gesê.
Sy lewensfilosofie kan opgesom word met die volgende:
“Praat oor ’n probleem voor dit groter raak,” is mee afgesluit.



